Local newsSchools

Komatipoort Akademie se nuwe hoof propvol energie en entoesiasme

Die nuwe skoolhoof glo in 'n gesonde balans tussen akademie en buitemuurse aktiwiteite.

Komatipoort Akademie het sy 2025 onder die nuwe leierskap van Gys van der Merwe, ’n gebore Vrystater, begin.
Van der Merwe is ‘n familieman, en studeer tans vir sy meestersgraad in onderwysregte en -beleide.

Ven der Merwe het in 2002 matriek geskryf, en sy passie vir onderwys was die motivering om deur Unisa kwalifikasie daarvoor te bekom terwyl hy gewerk het. Sy laerskoolonderwysloopbaan strek vanaf 2007 tot en met 2020, waarna hy ‘n hoërskoolonderwyser was.

Dit is dan ook die eerste keer in dié gekombineerde skool se geskiedenis dat dit onder die leierskap van ‘n opvoeder met hoërskoolonderwysagtergrond val. Dat gesinsdinamika en familielewe kernwaardes van die nuwe hoof is spreek uit sy liefderike verwysing na sy gade as ‘n wonderlike, ondersteunende vrou waarmee hy al 16 jaar getroud is. Hulle is die ouers van drie kinders; twee dogters en ‘n seun.

Hierdie ingesteldheid spreek ook uit sy verwysing na die skoolomgewing as ‘n uitgebreide familie.

Van der Merwe se agtergrond in sport en akademie, asook sy vrou s’n, spreek van ‘n gesonde balans tussen binne- en buitemuurse skoollewe. Op skool het hy aan atletiek (langafstande, gewigstoot, hoogspring), krieket, rugby, hokkie en swem deelgeneem.

Hy het met rugby en swem geskitter. Ná skool het hy die Comrades Marathon al twee keer afgelê. Hy glo vas in die beginsel dat ‘n gesonde liggaam ‘n gesonde gees huisves.

Reeds voor November, kort ná sy aanstelling, het Van der Merwe in die skoolgemeenskap ingeskakel en sodoende die leerders, hulle ouers, die onderwysers en personeel, skoolvriende en die gemeenskap leer ken.

LEES OOK: Komati-atlete aan die brand by Bergvlam

Komatipoort Akademie is al ‘n geruime tyd sonder sleutelposbediening ná die bedankings van beide die vorige hoof en onderhoof voor en gedurende 2024, omdat die departementele prosesse om dié poste te vul met burokratiese rompslomp en uitdagings gepaardgegaan het.

Trudie Stander het waargeneem as hoof. Sy is nou amptelik die skool se onderhoof. Haar wye agtergrond in fasehoofbestuur het haar en die skool help om knap op koers te bly totdat die aanstellings moontlik geword het.

Wat is Van der Merwe se waarnemings van die skool, skoolgemeenskap en breër gemeenskap? Volgens hom is Komatipoort Akademie uniek. Hier het kinders goeie maniere.

Trouens, iets wat deesdae baie min by skole gedoen word, sê hy, is ordentlike oogkontak en groet met die hand – maar hier gebeur dit wel. Van die eienskappe wat vir hom opvallend is, is vriendelikheid en dinamika.

“Die personeel is ‘n gedugte span! Ek voel tuis en ek weet ons gaan goed saamwerk.”

Hierdie hoof is propvol idees en entoesiasme. Hy is opgewonde om te ervaar hoeveel die personeel in die skool en die kinders belangstel. “Ook die gemeenskap is baie vriendelik en behulpsaam. Almal werk saam om die skool ‘n lekker en mooi plek te maak. Komatipoort Akademie voel soos een groot familie.”

Die nuwe hoof se ideaal is dat Komatipoort Akademie die beste skool met geleenthede vir elke kind is en bly.

“Wanneer die leerders oor ons skool praat, sal hulle onthou dat elke mens in ons skool merkwaardig is – hulself, elke personeellid, elke ouer en elke skoolvriend. Hulle sal ervaar dat dit in elke aspek van hulle ontwikkeling ingeweef is, sodat hulle ná skool ook dieselfde soort waardes vir ander sal uitbeeld waar ook hulle gaan.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Blake Linder

Blake Linder is based in Mbombela and is a Senior Journalist at the Lowvelder. He carries with him nearly a decade's worth of experience in media. He has previously worked as News Editor, but now primarily focuses on Sport News, having previously won awards for both his sports writing and photography.
Back to top button