Komati-atlete aan die brand by Bergvlam
Die Komati-atlete het altesaam vier medaljes ontvang.
Komatipoort Akademie se atlete het op 31 Januarie by Hoërskool Bergvlam se KCS-atletiekbyeenkoms behoorlik gekook.
Hulle het nie net teen mede-atlete te staan gekom nie, maar ook die uitdagende weerstoestande. Die Komati-span het teen Meridian Karino, Uplands, Penryn, Curro Nelspruit, Hoërskool Rob Ferreira, Hoërskool Barberton, Lowveld High School en Ligbron Akademie se atlete meegeding.
Die atlete uit die Onderberg het gesorg dat hulle op Bergvlam se atletiekbaan skitter, en alhoewel die reën ‘n uitdaging was wat die dag kortgeknip het, het dit hulle nie gekeer om ‘n paar goue medaljes op te raap nie. Komatipoort Akademie het só met vier medaljes weggestap.

Deidré Grobler het ‘n brons medalje in die o. 19-dogtersgewigstoot verower, met ‘n afstand van 7,96 m. Nicke Meyer het ‘n goue medalje met haar tyd van 01:21.96 in die o. 16-dogters se 400 m-hekkies opgeraap.
Megan Lourens was met twee goue medaljes Komatipoort Akademie se beste atleet van die dag. Dit was vir 51,41 sek. in die o. 15-dogters se 300 m-hekkies, asook vir 13,83 sek. in die 100 m-naellope.
