Gewilde oudrestaurateur van Mbombela in fratsongeluk dood
Niel Els se naam sal altyd onthou word. Lees hier meer oor sy nalatenskap.
Els (64), voormalige eienaar van die uiters gewilde nagklub wat sy deure in 1990 in die Bester Brown-gebou oopgegooi het, ontlok meer as een glimlag, veral onder die jongelinge van destyds.
Sy oop gesig, vriendelike en uitbundige lag en daai ondeunde stout-seuntjie-kyk in die oë is nou na 35-jaar nie meer daar nie. Els is verlede Dinsdag, 11 Februarie, in ‘n fratsongeluk in Kaapstad dood.
Hy het die aand, enkele ure nadat hy en talle van sy toerisme- en Skål International-vriende die 35-jarige herdenking van Nelson Mandela se vrylating uit die Victor Verster-tronk, gevier het, geval en ‘n noodlottige hoofbesering opgedoen.

Volgens Corli Els, sy voormalige vrou en ma van sy twee seuns, Vaughn en Joshua, was Els te voet op pad na ‘n ander geleentheid. “Hy was besig om die straat te oorkruis toe ‘n motor vinnig verbygery het. Niel het geskrik, agteroor geval en met sy agterkop teen die sypaadjie geval.”
Die paramedici was vinnig op die toneel, maar hy is oorlede voordat hy hospitaal toe geneem kon word.
Els het After Dark in 1990 in Nelspruit geopen nadat hy ‘n nagklub met dieselfde naam in ‘n duistere stegie in Queenstraat 80, Pretoria, besit het. Els kan met reg gesien word as die man wat eiehandig die Laevelders aan groot kunstenaars blootgestel het. Nataniël, Danie Niehaus, Casper de Vries, die Coleske-broers, die komediant Joe Parker, Elsabe Zietsman, Johannes Kerkorrel, Laurika Rauch, Mynie Grové, die befaamde Cutt Glass en Amanda Strydom was maar enkeles van dié wat hy hierheen gelok het.

Nadat hy die restaurantbedryf in 1995 vaarwel geroep het, was hy onder meer die besturende direkteur van die Turnberry Boutique Hotel in Oudtshoorn en later die algemene bestuurder van die gesogte Vida Nova Retreat in Houtbaai.
Els het ‘n passie vir toerisme gehad en het die bedryf, en Suid-Afrika, op die hoogste vlakke as ‘n SA raadslid van Skål International, president van die Skål Garden Route en president van Skål International South Africa bedien. Tot en met sy dood het hy as bemarkingsdirekteur van Destination Africa gewerk. Rune Engstrøm, die eienaar hiervan, sê Els sal onthou word vir sy flambojante, geesdriftige, aansteeklike lag en sy grenslose passie vir reis.
Els word oorleef deur sy seuns en kleinkind, Dylan ‘The Jedi’.
