Merkwaardige oud-Laerskool Barberton hoof word onthou
Die Barberton-gemeenskap betreur die heengaan van oud-skoolhoof, Pieta Pieterse.
Pieta Pieterse
(12 September 1948 – 26 Februarie 2025)
Met skok en hartseer het oud-inwoners van Barberton verneem van die afsterwe van Pieta Pieterse (77) op Woensdag, 26 Februarie.
Pieta was die skoolhoof van Laerskool Barberton vanaf 1987 tot 1993 waarna hy die hoof by Laerskool Bronkhorstspruit was tot sy aftrede in 1997.
Hy en sy vrou, Marie, het in die Kogelpark Aftreeoord in Kleinmond in die Wes-Kaap gewoon.

Johan Venter van Zyl, ’n oud kollega en vriend van Pieta, skryf in ’n sosiale media-inskrywing:
“Sy trots was nie hyself nie, maar sy eggenoot Marie, kinders Zelda en Carel, en kleinkinders waaroor hy gereeld gepraat het. Pieta, soos hy bekend gestaan het, het diep spore in die Laeveld en in onderwyskringe getrap.
“Pieta was veral geliefd en gerespekteerd in die Barberton-gemeenskap vir sy jare lange diens as die laerskool se hoof. ’n Waardige wysheer. Hy was ’n wonderlike man wat mense lief gemaak het vir die onderwys. Wat ’n wonderlike voorreg om onder hom te kon werk – ek het so baie geleer. Hy het ’n groot rol in baie van ons se lewens gespeel. Hy was egter ’n baie streng, maar ’n regverdige hoof. Al die onderwysers van Laerskool Barberton kan verseker beaam dat wanneer hy sy groen pak klere aangehad het, mens daardie dag liewers baie versigtig moes wees en dalk nie in hom moes vasloop nie.
“Uit ander se plasings op sosiale media kan ’n mense lees dat hy ’n man van God was met ’n omgee hart. Iemand wat sy medemens liefgehad het. Sy persoonlikheid en omgee vir mense was so lieflik en gedien in die gemeenskap. Baie mense het ’n sagte plek in hulle harte vir hom gehad. Hy was altyd so positief en het altyd insiggewende artikels gedeel. Daardie goue pen, waaruit Afrikaanse woorde gevloei het, sal gemis word,” skryf Van Zyl.
Die Barberton-gemeenskap betreur Pieta se heengaan.
“Pieta het die afgelope tyd baie met sy gesondheid gesukkel. Tog is sy dood skielik en onverwags. Ons berus ons daarby dat Oom Pieta se stryd nou verby is, en dat hy sonder sy kruk en vol vrede in God se teenwoordigheid staan. Koester die mooi tye en mooi herinnering wat vir altyd bly.”
Pieta se lewe word Donderdag, 6 Maart, in die Tobie Erasmus Saal te Kogelpark Aftreeoord in Kleinmond om 11:00 gevier.
Hy laat sy vrou Marie, twee kinders, Carel en Zelda en kleinkinders agter.
’n Stroomdiens sal Donderdag op Pieta se Facebook-blad beskikbaar wees.
