Verwaarlosing moontlik die oorsaak van Rob Ferreira-pasiënt se dood
Arturo van der Merwe se familie beweer dat hy onmenslike behandeling moes verduur in die dae voor sy dood, en dat sy pleidooie om hulp geïgnoreer is.

Dood en na bewering aan sy hospitaalbed vasgebind.
Dit is die skok wat die familie van Arturo van der Merwe (52) beweer hulle twee weke gelede beleef het toe hy in Rob Ferreira Hospitaal in Mbombela oorlede is.
Volgens sy familie is Van der Merwe skaars ‘n uur nadat sy oom, Fanus van der Merwe (73), die verpleegpersoneel in saal agt gevra het om hom (Arturo) te help omdat hy asemnood gehad het, oorlede.
LEES OOK: Three families claim Rob Ferreira Hospital is filthy and in disrepair
“Hy het volgens ons alleen gesterf, steeds vasgebind aan die bed en gesukkel om asem te haal,” het Renette Heroldt, sy dogter, die afgelope week gesê.
Die familie beweer dat toe hulle omstreeks 14:00 by die hospitaal opgedaag het, die personeel aanvanklik ontken het dat hulle geweet het waar sy liggaam was.
LEES OOK: Mbombela’s Rob Ferreira hospital lets patients down again
“Eers het hulle beweer hy is reeds lykshuis toe verskuif. My ma, Elvira, het egter geweier om dit te aanvaar en uiteindelik het ‘n manlike verpleër ons na sy kamer toe geneem. Pa was reeds koud en het verlate op bloedbevlekte linne van vier dae tevore in die bed gelê. Ons was geskok en al het ons hom daar sien lê, was dit vir ons net so unreal,” het ‘n steeds emosionele Heroldt vertel.
Volgens haar is hy op Sondag, 2 Maart, oorlede.
Dit volg nadat hy op 9 Februarie in die hospitaal opgeneem is, nadat hy glo met ‘n vergrote hart en oormatige vloeistofretensie gediagnoseer is.
Die volgende dag is hy met hartversaking gediagnoseer.
“Pogings om behandeling toe te dien, het herhaaldelik misluk, want hulle het gesukkel om die drup behoorlik in sy arm te kry. Dit het tot lekkende vloeistowwe en infeksies gelei,” beweer Heroldt.
Sy glo verder dat, ten spyte van sy verswakkende toestand, hy vier dae lank geen behoorlike medikasie ontvang het nie. Hy was glo geskeduleer vir ‘n echokardiogram, maar volgens haar is dit nooit gedoen nie.
“Ons het gehoor dat hy op 19 Februarie eenvoudig ontslaan is omdat hulle glo die bed nodig gehad het.”
LEES OOK: Electricity to Rob Ferreira Hospital and Government Complex restored
Sy vertel dat sy toestand by die huis so versleg het dat hulle hom op 28 Februarie Nelmed toe geneem het in die hoop dat hulle die vloeistof uit sy maag kon dreineer.
Die dokter het glo gesê dat hy onmiddellik weer in die hospitaal opgeneem moes word.
“Rob Ferreira het geweier om ‘n ambulans te stuur en ons moes hom self daarheen neem. Met sy aankoms het die dokters gesê dat hy nooit ontslaan moes gewees het nie,” beweer sy, en voeg by dat die behandeling wat hy sedertdien ontvang het, verwaarlosing op sy ergste was.
“Hy is hulp om die toilet te gebruik geweier en is aangesê om ‘op die bed te mors’. Hy is sonder waardigheid vasgebind omdat hy wou opstaan omdat hy gesukkel het om asem te kry. Hy is kaal voor die personeel en besoekers gelaat en sy pleidooie om hulp met asemhaling, is geïgnoreer,” beweer Heroldt.
Volgens die familie is hierdie nalatigheid in sy ergste vorm, en dat dit nie ‘n geïsoleerde voorval was nie, maar dui op ‘n sistemiese mislukking in Rob Ferreira.
“Hoeveel meer gesinne moet hierdie soort onmenslike behandeling en voorkombare verlies verduur? Wanneer sal iets aan die toestand van die Rob Ferreira Hospitaal gedoen word? Pasiënte word nie met waardigheid of sorg behandel nie, en dit lyk vir ons asof personeel hul salarisse bo dienslewering prioritiseer. Ons eis aanspreeklikheid, optrede en verandering,” sê sy.
Dumisani Malumela, die woordvoerder van die Departement van Gesondheid, het bevestig dat hulle ‘n indringende ondersoek oor die voorval sal doen. Hy het belowe dat die uitslag hiervan gepubliseer sal word sodra dit beskikbaar is.