Johan Hattingh vier 40 jaar by NHS voor aftrede
Uit sy 40 jaar by NHS, was Johan Hattingh vir sewe jaar as die skool se hoof werksaam.

Hoërskool Nelspruit het onlangs ‘n baie spesiale funksie aangebied om die merkwaardige loopbaan van Johan Hattingh saam met vriende, familie en personeel te vier.
Hattingh is al vanaf 1986 by NHS werksaam en dien sedert 2018 as skoolhoof.
Tydens die funksie het Rina Malan, Morné van der Merwe en Andri Nel oor sy betrokkenheid by wiskunde, sport en die personeel gesels. Die beheerliggaam (BL) se voorsitter, Louise Snyman, het namens die BL gepraat, en dr. Louis Swanepoel het namens die gemeenskap ’n huldeblyk aan Hattingh gelewer.

’n Oud-Nellie en gaskunstenaar, Natascha C, het die gehoor bederf met ’n spesiale opvoering.
Dit was ’n baie emosionele oomblik toe Hattingh se oudste dogter, Jana, uit Australië ingebel het en ook op die groot skerm ’n spesiale boodskap, soos haar jonger sussie net voor haar, met haar pa gedeel het.

Die laaste spreukbeurt het aan Hattingh-self behoort, waartydens hy hoogtepunte uit sy loopbaan gedeel het en afskeid geneem het. Die aand is afgesluit met ’n pragtige weergawe van “Seënbede”, gesing deur ’n personeelgroep (Kriekie Bekker, Fano Blignaut, Rina Malan, Morné van der Merwe en Rona van Blerk).

“Ons is almal opreg dankbaar vir Johan en Desiré Hattingh, wat diep spore by dié skool getrap het. Hulle sal altyd die goue draad bly wat deur NHS geweef is. ’n Legende soos die nimlike Johan Hattingh leef voort in al die leerders, ouers en personeel wat hy altyd hoog geag het se harte,” het die skool in ‘n verklaring gesê.
