Pa op soek na seun se vermiste besittings
Die pleidooi van 'n pa om sy seun se verlore besittings terug te kry, val op dowe ore
Die pa van Jurgens Nel (39) se pleidooi om sy seun se besittings uit die huis waar hy op die plaas Lowhills dood is, terug te kry, val op dowe ore.

Daan Nel het aan Laevelder gesê daar is onder andere ‘n Bybel, selfoon, boeke, horlosies, klere, skoene en kepse asook kookgerei en ‘n Dremel-handgraveerder waarvan hy bewus is.
“Sy duur Vortex-verkyker is ook nog daar. Die goed mag dalk nie baie waardevol wees nie, maar dit het groot sentimentele waarde vir my,” sê Daan.
LEES OOK: TIMELINE | 12 months of key events on Lowhills Farm leading up to Jurgens Nel’s death
Toe hy ‘n navraag hieroor aan Johan Möller gerig het, is die volgende boodskap aan hom gestuur:
“Goeie dag. Ek is Hennie v rensburg die advokaat wat van johan en sonell se goed doen. Ek is u boodskap gewys oor Jurgens se goed…die items wat daar was is reeds oorgandig…die SAPS get die lyk verwyder en die toneel opgeruim…daar is niks Meer nie. Ek het opdrag gegee Dat johan geen informasie gee nie en ook geen toegang gee aan enige person sonder my toestemming nie…die saak is sub judicea en dit daar gelaat.” (sic)
Laevelder het Van Rensburg vir kommentaar gevra om die egtheid van die boodskap wat vanaf Möller se selfoon gestuur is, te bevestig, maar het geen reaksie ontvang nie. Die boodskap is egter afgelewer en gelees.
Möller het ook nie op navrae in dié verband gereageer nie.

Intussen is navrae ook aan die SAPD gerig, en ‘n provinsiale polisiewoordvoerder, lt.kol. Jabu Ndubane, het gesê dat die beamptes op die toneel slegs die lyk verwyder het. Volgens haar het hulle niks van Jurgens se besittings geneem nie.
Vir Daan wat in Namibië woon, is dit onaanvaarbaar.
Sy seun se lyk is Maandag, 3 Februarie, met verskeie steekwonde gevind.
LEES OOK: Lowhills murder: Joubert remains in custody, life partner arrested
Sonell Joubert, Möller se lewensmaat, is kort daarna in hegtenis geneem en is vandeesweek vanaf Nelspruit Korrektiewe Dienste na KwaMhlushwa teruggeskuif.
Sy het Donderdag, 27 Maart, in die Tonga-hof verskyn vir die voortsetting van haar borgverhoor. Joubert staar moordklagte in die gesig.
LEES OOK: Sonell Joubert murder case postponed to May 8 for further police investigations
