Local news

Monument tussen Graskop en Bourke’s Luck herleef na restourasie

'n Gedenkteken van twee historiese figure in Suid-Afrika is in ere herstel.

Totius skryf in sy gedig “Vergewe en vergeet”:

Daar het ‘n doringboompie
digby die pad gestaan,
waar lange ossespanne
met sware vragte gaan.
En eendag kom daarlangs
‘n ossewa verby
wat met sy sware wiele
dwars-oor die boompie ry…
Ook het die loop van jare
die wonde weggewis –
net een plek bly ‘n teken
wat onuitwisbaar is.

Net so kan daar seker gedig word oor die Trichardt-Potgieter-monument tussen Graskop en Bourke’s Luck. “Daar langs die pad het ’n monument gestaan…”

Net soos ’n ossewa die doringboompie met blywende letsels gelaat het is die monument erg gevandaliseer deur verbygaande motoriste. Maar kom ons draai die klok terug na 1976/77.

Ons was vier troepe wat ’n huisie gedeel het by 4 Suid-Afrikaanse Infanterie Bataljon (7SAI) reg langs die Bourke’s Luck kolkgate.

Een Sondagmiddag kom ’n korporaal by ons kamer in met die opdrag: “Kom, julle gaan klippe laai vir ’n monument”. Na ’n harde week van opleiding was niemand lus vir klippe laai nie. Ons het maar teensinnig op die Bedford se bak geklim en die koppies ingevaar om mooi groot klippe bymekaar te maak.

Dit is in ’n hopie gestapel langs die pad. ’n Paar maande later het ons weer verby die klipstapel gery en tot ons verbasing was daar ’n pragtige monument met wawiel ingebou.

Die dag se teensinnigheid het plek gemaak vir trots.

Een van daai klippe wat met ons hande aangedra is was nou ’n monument. Na ’n jaar se diensplig kon ons vir familielede die monument gaan wys en weer ’n foto daar langs die pad geneem.

Nou is dit byna 50 jaar later… Die goeie nuus is dat die monument tot sy ou glorie herstel is en Saterdag ingewy word.

• Datum: Saterdag 28 Junie 2025
• Tyd: 09:00 vir 09:30
• Ligging: Trichardt-Potgieter-monument, tussen Graskop en Bourke’s Luck. GPS-koördinate: -24.724768, 30.848317
• Spreker: Frederik Brits.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) sê in ’n persverklaring: “Noord van Graskop staan ’n monument wat getuig van moed, opoffering en pioniersgees – ’n gedenkteken aan Karel Trichardt en Andries Potgieter, twee figure wat diep spore in ons geskiedenis getrap het. Hierdie monument, wat hul reis en invloed op die Groot Trek verewig, is pas met sorg herstel.

“Die FAK nooi jou hartlik uit om die onthulling van die herstelde Trichardt-Potgieter-monument by te woon – ’n spesiale geleentheid om nie net terug te kyk nie, maar ook vorentoe te dink oor ons rol in die bewaring van ons erfenis.

“Van 24 tot 27 Junie werk die FAK aan die herstel van hierdie belangrike kultuurerfenis. Op 28 Junie om 09:00 bring ons die gemeenskap bymekaar om hierdie historiese beeld weer met trots aan die publiek bekend te stel.

“Kom luister na gasspreker Frederik Brits, ontmoet ander erfenisbewaarders en wees deel van ’n oomblik wat wys: Ons bou aan môre deur gister te eer.

“Laat ons saam stilstaan by die stories wat ons geskiedenis gevorm het en die erfenis wat ons aan ons kinders wil nalaat.”

Kontak gerus vir Charles Rademeyer by 076 6888 782 of by charles@kultuurtuiste.org.za.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Bertus de Bruyn

Bertus de Bruyn is based in Mbombela, Mpumalanga. De Bruyn has been employed by Caxton since 2009. After a short sabbatical of two years, De Bruyn is back at the place he called home, Caxton, at Lowveld Media. He is currently the digital content manager, but has 14 years of journalism skills, news editor, and acting editor duties behind his name.
Back to top button