Witrivier as Kwêla Dorp van die Jaar-finalis aangewys
Die wenner sal op 3 Augustus op Kwêla bekend gemaak word.
Die dorp, bekend vir sy kunssinnige en Laeveld-ryke natuur, is verlede Sondagaand amptelik as ‘n finalis in vanjaar se Kwêla Dorp van die Jaar-kompetisie bekend gestel.
Die insetsel het van Witrivier se gewildste aantrekkingskragte en restaurante met die kykers gedeel, soos die gesogte Casterbridge-leefstylsentrum, The Plantsman Eatery en die motormuseum.
LEES OOK: Dis weer tyd vir Kwêla se Dorp van die Jaar
In ‘n onderhoud met Pierre du Preez, die ondervoorsitter van TPO8000, het hy meer oor die gemeenskapswerk uitgebrei:
“Ons is ‘n baie vrygewige en betrokke gemeenskap. Ons kry dinge gedoen.”
Du Preez het vertel hoe hulle probeer om Witrivier ‘n skoon en funksionele dorp te hou deur die strate en parke skoon te hou en ook om die paaie te herstel.
Rob Gibbs, die stigter van Buy Local, het gesê die organisasie bring plaaslike sakeondernemings saam om mekaar te ondersteun en te bevorder.
“Die idee agter die inisiatief is om verbruikers aan te moedig om meer geld plaaslik te spandeer,” het Gibbs gesê.
Die inwoners het alle Suid-Afrikaners aangemoedig om vir hulle dorp te stem sodat Witrivier een miljoen rand kan wen. Hulle het ook die kykers uitgenooi om hulle Slowveld-leefstyl te kom ervaar.
‘n Promosievideo sal deur Homebrew Films vervaardig word en dit sal tydens advertensietyd op kykNET uitgesaai word.
LEES OOK: Hier is Mpumalanga se semifinaliste vir Kwêla se Dorp van die Jaar
Die kykers kan vanaf 13 Julie om 19:00 tot en met 18 Julie om 12:00 vir Witrivier stem.
‘n SMS kos slegs R1.50 en kan na die nommer 33157 met die dorp se naam, gestuur word. Die wenner sal op 3 Augustus op Kwêla bekend gemaak word.
