Van kuns tot Kurt Darren – Innibos spog met ’n propvol feesprogram
Innibos vier 21 jaar van kuns, kultuur en koningsname.
Met ’n feestelike seremoniële afskop by Hoërskool Bergvlam het die Toyota Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees Dinsdagaand, 1 Julie, amptelik begin.
Die opening, met Leah Mabuza, die LUR van kultuur, sport en ontspanning, as gasspreker, was nie net ’n huldeblyk aan kreatiwiteit nie, maar ook ’n vooruitblik op die rykdom wat feesgangers hierdie week te wagte kan wees.
Kuns staan vanjaar weer sentraal in die feesprogram. Van daaglikse rondleidings om 12:00 by die kunsgalery op die feesgronde tot die galery se openingstye van 10:00 tot 17:00 – daar is iets vars vir elke feesganger om visueel te ontdek. ’n Hoogtepunt op die kunskalender is die uitstalling “Shaya-iNgodini” deur die feeskunstenaar Reuben Mpangane by die White River Gallery in Casterbridge. Mpangane sal self ’n spesiale rondleiding aanbied.
Ander uitstallings soos “Tuiskoms” (’n groepsuitstalling van Laeveldse kunstenaars) en “Daar is Afrikaans in my tee” deur Jak de Priester bring ’n speelse én betekenisvolle bydrae tot die visuele aanbieding. Die kunsuitstalling-openingsgeleentheid is net die eerste van vele hoogtepunte wat die Toyota Innibos Kunstefees vanjaar bied – ’n ware skatkis van Suid-Afrikaanse talent wat wag om ontdek te word.
“Die viering van Afrikaans en die ongelooflike talent in ons musiekbedryf maak hierdie Innibos uiters spesiaal,” sê Sandra Jacobs, die direkteur van Innibos. “Ons vereer ook ’n ware ikoon van Afrikaanse musiek – Kurt Darren – vir sy bydrae tot die bedryf. En vir dié klomp redes gaan Innibos jou stukkend bederf: ons hou die kaartjiepryse presies dieselfde as verlede jaar,” sê sy. Geen verhogings, geen ekstra sente – net LEKKERTE.
LEES OOK: Lekker aan tafel in die Laeveld
Innibos spog met vier kuierverhoë met propvol programme, asook kuns en ’n kunskrôl, boeke, boekgesprekke en ’n boeke-crawl, stalletjies wat twee keer per dag spesiale aanbiedinge het om die fees se 21ste bestaansjaar te vier, en ’n magdom ander lekkernesse op die terrein.
Op Vrydag, 4 Julie, word feesgangers uitgenooi na die Jacaranda FM Konsert. Groot name sluit in Robbie Wessels, Bok van Blerk, Die Heuwels Fantasties en Martin Bester. Feesgangers kan Saterdag, 5 Julie, die kykNET Konsert met kunstenaars soos Kurt Darren, Refentse, Snotkop en Zaan Sonnekus, bywoon.
By die Laevelder Boma-kuierteater kan jy uitsien na optredes deur groot name soos Hannon, Matie van Graan, Mel die Storieverteller en Wynand van Vollenstee. Theo Venter, Kabous Meiring, Dawie Roodt en Lourensa Eckard sal in die daaglikse gespreksreekse temas soos die ekonomie, Trump en ander aktualiteitsake bespreek.
Die ATKV-Storievuur met Ricus Nel, Boet Pretorius en Innibos-feesbestuurder Andy Lubbe is ook ’n moetsien-produksie. Wian van den Berg, sosiale mediaster en towenaar, gaan ‘lekker’ ’n nuwe betekenis gee.
By die Everest Wealth-wingerdkuierarea sorg Bianca Blanc, Damian Beer, Frazer Berry, Len Muller, Jack & June, sowel as plaaslike kunstenaars soos Natascha C & Henry-John, vir hope plesier.
LEES OOK: Innibos patrons urged to behave on the roads
Die Arena- en kykNET-verhoog hou jou vasgenael met optredes deur ONS, Prop, Skemer, Tamlyn Wessels, Reborne, BitterLekker Musas, Cordelia, Fran Prins, Jakkie Louw en vele meer.
Die kykNET Countrykonsert bring Chris Else, Franja du Plessis & Ruan Josh, Cordelia en Skemer na die verhoog.
Moenie vergeet van die afterparty nie: DJ Jaydon Mark, Sensasie en Justin Vega hou die ritme aan die gang ná die hoofkonserte by die arenaverhoog.
En omdat Innibos weet kultuur lê nie net in musiek nie, maar ook in die groen en goud, kan feesgangers die Springbokke se wedstryd teen Italië regstreeks op die hoofverhoog se grootskerm kyk. Die konsert begin ná die rugby, om 19:00. En vir dit alles betaal jy net R310 – ’n winskoop vir sóveel lekkernesse!
Daar is selfs nog ’n paar verrassings op pad…
