Mini-Bok kry held se toks én ‘n drukkie
Na afloop van ’n Springbok-oefensessie op Hoërskool Nelspruit se velde, het ’n jong seun sy held ontmoet.
Die sesjarige Aaron Pheiffer van Nellie Miere het ‘n droom gehad, ’n eenvoudige en opregte begeerte om eendag net soos Cheslin Kolbe te wees.
LEES OOK: Meet your Springbok heroes at Crossing Nelspruit
Nie vir die roem nie, maar oor hoe Kolbe hardloop – sy pas, spronge en draaie is dié van ‘n ware Springbok. Min het Aaron geweet dat sy wens waar sou word – en op ’n manier wat hy nooit sou vergeet nie.

Sy ma, Wilke, het die week voor die Springbokke/Georgië-wedstryd gehoor dat daar ’n openbare oefensessie by Hoërskool Nelspruit sou plaasvind. Sonder aarsel het sy haar twee seuns geneem om hul helde van naderby te aanskou.
Die reëls was streng: geen foto’s, geen interaksie – net stil toekyk van die paviljoen af. Maar hoe hou jy ’n sesjarige se vreugde in toom wanneer sy held reg voor hom staan? Aaron kon nie keer dat sy gesig ophelder nie.
En Kolbe, met daardie fyn aanvoeling vir mense wat hom só geliefd maak, het dit raakgesien.
LEES OOK: IN PHOTOS: More than 36 000 fans spur Springboks on to victory
Na afloop van die oefensessie, het die Springbok-ster doelgerig na Aaron gestap, hom gegroet, en toe iets byna ondenkbaars gedoen; hy het vir Aaron ’n drukkie gegee, saam met hom ’n foto geneem en toe sy eie rugbystewels vir hom gegee. Die toks wat net ’n paar minute tevore nog op die oefenveld was, was nou in Aaron se arms.
“Hy het daardie aand saam met die stewels in die bed geklim,” sê Wilke glimlaggend. “Hy het nie sy glimlag verloor nie – nie vir ‘n oomblik nie.”
Aaron, wat tans by die Puma Kidz Akademie oefen, werk daagliks aan sy droom. Hy bewonder Kolbe se spoed, ratse bewegings en nederige houding, en hoop om eendag self saam met die Bokke op die veld uit te draf. Nie as ’n toeskouer nie, maar as ’n speler.
