Mbombela-inwoner nog fris en vrolik op 90
Joop Huiskamp het op 90 steeds ’n aktiewe leefstyl en dien as inspirasie vir ander.
Joop Huiskamp, ‘n welbekende bourekenaar en inwoner van die Laeveld, het Woensdag, 6 Augustus, sy 90ste verjaardag gevier.
LEES OOK: Beloved Mona passes away at age of 101
Huiskamp is nie die tipiese bejaarde wat die hele dag by die aftreeoord sit en bordspeletjies speel nie. Hy oefen daagliks en gaan ook drie keer per week gim toe. Hy staan Maandae, Woensdae en Vrydae ses uur op en ry self met sy motor om te gaan oefen.
Sy biokinetikus, Joanita Badenhorst, oefen al 18 jaar saam met hom en vertel dat hy ‘n groot inspirasie vir ander is.
“Oom Joop is ‘n goeie mens en hy kyk altyd uit vir ander.”
Huiskamp het agt jaar gelede vier hartomleidings ondergaan en het vinnig na dié operasies herstel. Badenhorst het sy oefenprogram aangepas om veral op kardio-, krag-, strek- en balansoefeninge te fokus.
“Bejaardes moet veral balans- en koördinasie-oefeninge doen, aangesien hulle ná ‘n val nie sommer heeltemal herstel nie,” sê Badenhorst.
Dis egter nie al oefening wat Huiskamp doen nie. Dinsdagoggende stap hy 3,3 km deur die botaniese tuin saam met die Lekker Stapgroep. Hy het laggend vertel dat hy aan die begin die enigste man was en dat hulle as ‘Joop en sy harem’ bekend was.

Hy speel ook Donderdae pétanque saam met die inwoners van Pumalanga-aftreeoord. Sy oefening dateer terug na die 60’s, toe hy ‘n drafgroep, genaamd die Platpootklub, begin het. Hy en sy vrou, Yvonne, is al 63 jaar getroud.
Die egpaar het in 1965 na Nelspruit verhuis toe Huiskamp ‘n vennootskap aangebied is en deel van die span wat die bekende Bester Brown-sentrum, die eerste toringgebou in dié dorp opgerig het, geword het.
LEES OOK: Aandag alle aftreeoorde: Petanque wag by Pumalanga
As bourekenaar was hy by die bou van vele geboue betrokke, insluitend die koshuise by Hoërskool Nelspruit, kerke, Herfsakker Ouetehuis en die Mariepskop-radarstasie. Hy het ook saam met die Gideons Bybels by skole in die omgewing versprei.
Hy en sy vrou het twee seuns aangeneem. Yvonne het haar trots op Huiskamp se prestasies oor die jare gedeel.
“Sy woord is sy eer, en jy kan altyd op hom staatmaak.”
Huiskamp sê die sosiale interaksie wat hy kry wanneer hy oefen, hou hom gesond en het bygevoeg: “A laugh a day keeps the doctor away.”
