IN FOTO’S: 2025 Bateleur Motorskou slaan derde rat in
Daar was meer as 200 motors in totaal deel van dié skou.
Die derde jaar van die Bateleur Antieke & Klassieke Motorskou was een vir die rekordboeke.
Vanjaar se skou het op ‘n heel ander skaal plaasgevind op 23 Augustus.
Die idee vir dié antieke motorskou in die Laeveld is drie jaar gelede deur Bateleur Estate se sosiale komitee geloods. Waar daar in die eerste jaar slegs ses inskrywings was, het dit in 2024 reeds tot 78 toegeneem. In 2025 is die rekord egter ver oortref met nie minder nie as 130 antieke en klassieke voertuie, 20 klassieke vragmotors wat vir die eerste keer deelgeneem het, en verskeie nuwe voertuie wat deur handelaars uitgestal is.
Die groot sukses van verlede jaar se skou het só ‘n indruk gemaak dat die Model T Ford-klub van Suid-Afrika besluit het om hul jaarlikse toer en prysuitdeling in die Laeveld te hou. Hulle het vanjaar die Bateleur Motorskou besoek met onder meer ‘n 118 jaar oue 1907 Ford Model S, bestuur en besit deur Alice van Jaarsveld van Johannesburg.

Onder die klassieke vragmotors het ‘n besondere 1964 International F210 uitgestaan – ‘n projek wat oor vyf jaar met sorg deur Nic Hegter van Vaalbank gerestoureer is. ‘Oom’ Herman Nel het ook weer agt motors uit sy museum naby Brondal uitgestal.
Inskrywings het van regoor die land ingestroom, so ver as George en Paarl in die Wes-Kaap, Villiers in die Vrystaat en Vryheid in KwaZulu-Natal. Plaaslike betrokkenheid is verder versterk deur die Laeveld 4×4 Klub en die Mpumalanga Departement van Gesondheid se nooddienshelikopter.
Duisende besoekers het deur die loop van die dag die motorskou besoek, en ‘n bedrag van R31 000 is vir Nelspruit Hospice ingesamel. Die 2025 Bateleur Antieke & Klassieke Motorskou was beslis een om te onthou, en motorentoesiaste sien reeds met afwagting uit na volgende jaar se weergawe.
> Foto’s: Blake Linder
















