Local news

Jong skrywer bring vars stem na Laeveld se Boekenaweek

Jannes Erasmus se drome en stem weerklink by Boekenaweek

Onthou die naam Jannes Erasmus, en indien jy ‘n ywerige resensieleser is, sou jy al heel moontlik sy naam met sy kreatiewe skryfwerk in Taalgenoot en Weg! Ry & Sleep, teëgekom het.

Maar dit is nie al nie, hierdie jongman van slegs 19 se kreatiwiteit ken geen perke nie.

Tydens die afgelope boekenaweek het Laevelder by Erasmus gaan kers opsteek.

Hy was seker een van die jongste besoekers by vanjaar se byeenkoms en was by elke boekbespreking te siene.

Met die intrapslag vertel hy dat hy van Swaziland af kom.

Digters tussen die klippe saam met prof Bernard Odendaal, Jenny Pape en Jannes Erasmus.

Hy het 245 km al die pad van die dorpie Big Bend gereis om die boekenaweek by te woon, want Laeveld-bloed bruis in sy are.

Mpumalanga verbintenis

Hy vertel meer oor sy verbintenis met Mpumalanga.

“Agt van die 19 jaar waarin ek myself nou bevind het ek in Malelane en Hectorspuit deurgebring. Laerskool Malelane van gr. A tot 7. Ek was te jonk om enige verbintenis met die natuur te hê. Maar as ek terugkeer na hiérdie wêreld, kan ek keer op keer sien hoekom buitelanders die geld spandeer om agter op die cruisers in die wildtuin rond te ry,” sê Erasmus.

Hy is ‘n stil mens, ‘n man wat observeer en inneem en ook kan filosofeer, want toe Laevelder by hom wil weet wie Jannes nou eintlik is, raak hy stil en sê:

“Ek weet eintlik nie. Dit is die lekker ding van die lewe. Dat mens nooit regtig enigiets weet nie, oor niks regtig versekerd kan wees nie. Maar ek weet ook dat die dinge wat ek doen, my as persoon en my menswees beskryf.”

Erasmus is bedrywig en dit blyk dat sy kreatiewe pen nooit ophou nie. Hy doen bemarking en alle publisiteitswerk vir Naledi. Hy is ook ‘n Boetiekboek-uitgewer.

Jannes Erasmus.

En bowen die feit dat hy die lees van boeke probeer bevorder, is Erasmus ook ‘n vryskut-boekresensent wat onder andere deur Rapport en LitNet gepubliseer word. Hy ontwerp ook hekelpatrone wat in Idees-tydskrif verskyn.

Aangeskakel en herlaai – hy het hoop

Maar hoe voel hy oor die afgelope boekenaweek?

“Die regte woorde het my reeds ontgaan. Ek sou eerder antwoord deur te sê hoe ek ná die naweek voel. Om in Swaziland/Eswatini te bly, het sy voordele maar met dié dat ek ouer raak, is die gebrek aan mense en mense in my head space baie groot. ‘n Naweek soos dié skakel my aan en herlaai wat ookal sonder krag gewerk het. Dit gee idees en dit gee hoop. Vir myself.

“En oor die voortbestaan van die dinge waarvan ek hou en waarvoor ek lewe. Ek voel dus asof ek enigiets kan aanpak wat voor my staan. Dit voel asof boeke kans sien vir die wêreld. En dat skrywers nie moed verloor het nie. Dit voel of woorde nog ‘n doel het. Ek voel geseënd om deel daarvan te vorm.”

Terug moet hy reis

Hy gaan terug Swaziland toe met ‘n swaar hart, want die hoogte- en laagtepunte van die afgelope naweek loop hand aan hand.

“Dis maklik om te antwoord. Hoogtepunt, die bestaan van hierdie naweek. Laagtepunt, die feit dat mens terug huis toe moet beweeg met die wete dat mens lank sal moet wag om dit weer te kan beleef. Te voel, te hoor.”

Droom in eenvoud

Wat is Erasmus se droom – en net soos hy dit elke dag in eenvoud bespeur, blyk dit eenvoudig te wees.

“My drome was nog altyd eenvoudig gewees. Om voluit te lewe en om my eie naam hoog te hou. Want wie dra ek op my skouers? My ruggraat hou my eie lyf op. My droom is om te doen waarvan ek hou. Om elke dag wakker te word en daarna uit te sien. My droom is om elke oggend, sonder dat ek dit beplan, met die regte voet uit die bed uit op te staan. Om gelukkig met myself te wees. En heel belangrikste – om van al hierdie dinge te kan skryf met die hoop dat dit ander mense soos ek sal laat voel.”

LEES OOK: Topskrywers kom gesels op Kaapsehoop diè naweek

Na wie kyk hy op?

“Ek kyk nie noodwendig op na ‘n sekere persoon nie. Eerder na ‘n groep mense wat doen waaroor hulle passievol is. Dit is een van die grootste vorme van inspirasie om te sien hoe mense werklik gelukkig met hulleself is. Want dit gee my moed wanneer ek wonder of dit werklik moontlik is om gelukkig te wees.”

Die boekenaweek se hoofstuk is toe en op die kalenderboekrak gebêre – en Laevelder wou by Erasmus weet of hy dink die fees genoeg doen om jongmense te lok, en Erasmus voel positief.

“Die boekewêreld is vir almal geskik. Nie dat daar enigsins kinder- of jeugboeke op die program gesit moet word nie. Die gesprekke wat gevoer was, is waardevolle kos vir enige persoon, wat in die boekbedryf belangstel, se siel. Wanneer dit kom by boeke en literêre waarde is enige boek of gesprek geskik en sinvol. My wens vir jongmense is dat alles wat gedroom word, waar sal word op die vreemdste en wonderlikste maniere. En dat die pad daarna gevul sal wees met wyshede wat alles die moeite werd sal maak.”

Dit is Jannes Erasmus – jong skrywer en talent wat hom nog groot pryse in die literêre wêreld gaan laat wen.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Bertus de Bruyn

Bertus de Bruyn is based in Mbombela, Mpumalanga. De Bruyn has been employed by Caxton since 2009. After a short sabbatical of two years, De Bruyn is back at the place he called home, Caxton, at Lowveld Media. He is currently the digital content manager, but has 14 years of journalism skills, news editor, and acting editor duties behind his name.
Back to top button