Local news

Mbombela familie oorweeg siviele eis ná tragiese boomhuis-ongeluk

Ferdi Greef se familie is steeds op soek na antwoorde oor die omstandighede van sy dood en oorweeg regsoptrede.

Met die hartseer van Ferdi Greef se emosionele begrafnisdiens Saterdag nog vars in die geheue, het sy familie Dinsdag tydens ‘n verassingsdiens weer van hom afskeid geneem.

Greef is in die vroeë oggendure van 7 September oorlede nadat hy by Fig Tree House op ‘n afgeleë deel van ‘n plaas langs die Mara-pad, oor ‘n reling geval en sy kop sowat agt meter laer teen rotse gestamp het. Volgens sy broer, Dawie, is daar in hierdie stadium nog geen duidelikheid oor hoe Ferdi oor die reling na benede getuimel het nie.

LEES OOK: Feesviering eindig tragies vir ‘go-to-guy’ Ferdi Greef

Ferdi het die naweek saam met sy gesin – Natalie Enslin (38) en haar kinders Daniel (13) en Nikita (15) – asook sy boesemvriend Roealle Strydom (41), sy vrou Marieka (41) en hul dogter Marne (12) in die boomhuis gevier, nadat hy op 3 September ‘n groot bevordering by sy werk ontvang het.

Nadat Ferdi in die donker geval het, het Roealle, Marieka en Marne vir bykans ‘n uur gesukkel om Ferdi agterop sy bakkie te tel.

Hulle het reguit na Rob Ferreira Hospitaal gehaas, waar daar gevind is dat Ferdi ernstige hoofbeserings opgedoen het as gevolg van stomp geweld aan sy kop. Hy is enkele ure later oorlede.

“Ons as familie is in hierdie stadium baie omgekrap omdat die polisie nog nie noemenswaardige verdere stappe met die geregtelike doodsondersoek geneem het nie.”

Die familie het verlede Woensdag hulle eie ingenieur aangestel om die perseel te ondersoek.

“Volgens die voorlopige aanduidings is bitter min van die voorgeskrewe bouregulasies tydens die bou van die boomhuis nagekom,” sê Dawie. “Byvoorbeeld, die handrelings op die eerste dek was nie op die korrekte hoogte nie, en op gevaarlike plekke is daar geen trappe of ander handrelings aangebring nie.”

Dawie sê die familie het reeds regsadvies bekom om moontlik ‘n siviele eis teen die eienaar, Theuns du Plessis, aanhangig te maak.

In reaksie op vrae van Laevelder het Du Plessis gesê: “Die personeel en bestuur is geskok en hartseer oor die tragiese voorval waarin iemand onlangs sy lewe verloor het. Ons gedagtes en meegevoel gaan uit na die familie en vriende van die oorledene in hierdie uiters moeilike tyd.”

“Uit respek vir die oorledene en sy naasbestaandes, en aangesien ons self nog baie vrae het oor die insident en wat gebeur het, sal ons geen verdere kommentaar lewer nie.”

Een van die onbeantwoorde vrae is die ondertekening van ‘n vrywaringsvorm.

“Op advies en veral in die lig van potensiële regstappe wat kom, gaan ons nie met die media praat nie. Wat die skinderstories betref, ons glo nie om daaraan deel te neem nie.”

Brig. Donald Mdhluli, polisiewoordvoerder, het bevestig dat die SAPD steeds met die geregtelike doodsondersoek voortgaan, maar dat geen polisieman nog die perseel besoek of verklarings afgeneem het nie.

“Daar is in hierdie stadium geen dokumente in die dossier wat openbaar gemaak kan word nie.”

Volgens Dawie is daar nog geen finale besluit geneem oor waar Ferdi se as gestrooi sal word nie.

“Ons pa, Kallie, se as is verlede jaar in St Lucia gestrooi. Miskien sal ons hulle laat saam wees. Hy en Ferdi was baie close.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button