Coenie en Rocco laat die Laeveld se klawers dans
Stories en musiek komposisies het gesorg vir 'n middag van vermaak.
Die legendariese sanger, Coenie de Villiers, en die pianis, Rocco de Villiers, het op Sondag, 28 September, by die Laeveld Nasionale Botaniese Tuin die klavierklawers laat dans. Die twee legendes het ‘n kombinasie van hulle komposisies en liedjies uitgevoer wat ‘n unieke uitbeelding van hulle musiek was.
LEES OOK: Lowvelders rise to the rhythm of the Ndlovu Youth Choir at the botanical garden
Die gehoor was veral in vervoering met Coenie se gedigvoorlesings en Rocco wat terselfdertyd klaviermusiek as agtergrondmusiek verskaf het.

Tussen die musiek en stories, het die twee se gekskeerdery vir ‘n prettige middag gesorg. Rocco, wat bekend is vir sy eksentrieke kleresmaak, het ‘n spesiale leopard-print kortbroekpak gedra om by die Laeveld te pas. Die gehoor het geskater van die lag toe Coenie ook op die verhoog in ‘n kortbroek verskyn wat by Rocco s’n gepas het.
LEES OOK: NG Moedergemeente Lydenburg bied musiekaand saam met Bernice West aan
Laasgenoemde het die gehoor ook verras met sy ‘beseminstrument’ wat hy as ‘n drom speel, terwyl hy klavier speel. Die kombinasie van die klanke was ongelooflik. Die duo het die vertoning op ‘n hoë noot afgelsuit met ‘n blues-samespel.
