Local news

Die groot reën kom glo ná môre oor Suid-Afrika

Môre is Krugerdag - en hulle sê mos die groot reën kom ná 10 Oktober. So loop die staaltjie…

Die staaltjie loop mos só: die groot reën kom na of op 10 Oktober.

Die ou Krugerdag!

Jare gelede was ek bevoorreg om David Grobelaar, beter bekend onder almal in Tzaneen se geweste as oom David, te ontmoet.

Daar het ek by hom gaan kersopsteek. ’n Gerespekteerde man met ’n grys baard en ’n wye kennis oor Volkekunde.

“Oom, kom die groot reën altyd na 10 Oktober?”

Foto: SAWS

“Nee, dié sal ek nou nie vir jou kan sê of dit die waarheid is nie. Dit is maar net 10 Oktober, die dag van Paul Kruger se verjaardag. Maar jy sien, kyk maar om jou rond, die knoppiesdoringboom staan in blom, al die grasvelde is groen. Dan kan mens mos ook nie anders as om te dink aan die gedig ‘Oktobermaand’ nie,” het oom David aan my vertel.

Sonder huiwering het hy so sonder ’n boek ’n strofe voorgedra:

“Dit is die maand Oktober,
die mooiste, mooiste maand:
Dan is die dag so helder,
so groen is elke aand,
So blou en sonder wolke
die hemel heerlik bo,
So blomtuin-vol van kleure
die asvaal ou Karoo.”

Daar is baie staaltjies en bygelowe oor wanneer dit nou eintlik gaan reën.

Tekens van reën – soos ouma dit sou vertel

My oorle ouma, en baie ander, glo dat wanneer die suid-ooster haar draaie in die Kaap begin gooi, jy maar kan weet: die reën kom.

Ouma het ook geglo dat as die ‘perdesterte’, soos sy die Cirrus-wolke genoem het, hulle verskyning maak, die reën kom.

Baie glo ook dat as die suikermiere soos seekoeie onderstebo in die suikerpot lê, ons moet regmaak vir groot waters. Nóg ander glo dat as die duisendpoot sy verskyning maak en muur opwurm, die Hemel se sluise glo gaan oopmaak.

LEES OOK: Summer weather alert: Lowveld faces flood and drought risks amid La Niña

’n Gewaardeerde vriend en kollega van my, Elize Parker, het my op sosiale media laat weet dat hoe hoër die vinkneste bo die water is, hoe groter en gouer die reën sal kom, en Joey Blignaut Barnard het laat val dat as die reën lelies blom kom dit ook reën.

Sien ek het ook so gedink, want sonder om wilde voorspellings te maak is ek ook geleer as die irisse blom daar gewoonlik reën ’n dag of wat later kom.

Die irisse blom in Mbombela. Foto: Bertus de Bruyn

’n Voorspelling

Ek het al gewonder of ‘oom weeraanbieder’ elke aand skuins na 19:00 tydens die nuusbulletin besef hoeveel oë op hom gerig is.

Dat duisende boere na hom kyk soos ’n ‘dissipel’ wat die goeie tyding bring; hoeveel in stilte hoop dat die voorspelling ’n verligting sal bring. Aan die een kant van die aarde woed siklone en tifone en aan die ander kant verdor die aarde en kraak dit soos legkaartstukke.

Die wind waai soms belowend, dan kyk almal maar in die rigting van die horison. Is daar dalk ’n wolkie wat iewers opsteek?

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ’n Geel vlak 2-waarskuwing uitgereik vir hewige donderstorms met swaar stortbuie, sterk skadelike winde en groot hoeveelhede klein hael wat oor die sentrale en westelike dele van Limpopo en Mpumalanga verwag word.

Dié diens voorspel verder dat daar toenemende kanse is op neerslag van 10 tot 12 Oktober, met sommige gebiede wat na verwagting verspreide middagbuie en donderbuie sal ervaar.

Verder kan die Oos-Kaap bewolkte toestande met ligte reën verwag, terwyl die Wes-Kaap gedeeltelik bewolk sal wees met geïsoleerde buie en donderbuie.

Of dit nou 10 Oktober, perdesterte in die lug, duisendpote of miere is, die hoop vergaan nie en geloof staan sterk.

Paul Kruger, gebore 10 Oktober 1825, sou môre 200 kersies op sy verjaardagkoek kon uitblaas.

Sal 200mm reën moontlik val?

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Bertus de Bruyn

Bertus de Bruyn is based in Mbombela, Mpumalanga. De Bruyn has been employed by Caxton since 2009. After a short sabbatical of two years, De Bruyn is back at the place he called home, Caxton, at Lowveld Media. He is currently the digital content manager, but has 14 years of journalism skills, news editor, and acting editor duties behind his name.
Back to top button