Finale kus voor legendariese Buffalo Hotel in Mpumalanga sy deure sluit
Die herinnering aan die Buffalo Hotel sal nog lank voortleef en diep ingeprent bly by sy besoekers.
Die oggend van 4 Oktober het Elfas Ngani Silinda hom deftig in sy mooiste mooi getooi.
Dit was op sy 86ste verjaardag.

Eintlik het Silinda effe onder dwang van sy seun, Petrus, opgetof omdat hy (Petrus) ‘n onverklaarbare begeerte gehad om sy pa na die historiese Buffalo Hotel te neem. Met hulle aankoms was beide effe oorbluf oor die reusestraatpartytjie wat voor die hotel aan die gang was.
“Natuurlik is julle welkom om in te kom,” het Elna Rautenbach, die huurder gesê.
Die eintlike ‘hartseerdag’
Silinda wou weet wat aan die gang was en is ingelig dat die ‘Buff’ daardie dag sy deure finaal sluit. Dit is toe dat die eintlike ‘hartseerdag’ ‘n ironiese wending van 180° gemaak het.
Silinda het tussen die jare 1966 en 1969 vir die destydse eienaar, Lennox Anderson, as kok in die hotel gewerk.
Dit was die eerste keer in dekades dat Silinda weer die hotel, wat in 1916 as die Hectorspruit Hotel bekend was, besoek het. Die aanloop tot die naamsverandering het in 1922 begin toe ‘n massiewe buffelbul in die strate van die dorp rondgedwaal en amok gemaak het.
Die verwoede bul het ‘n agtjarige dogtertjie bestorm, wat vir haar lewe moes vlug en net-net betyds ‘n skuiling in ‘n boom kon kry. Omdat Anderson ‘n bobaasskut en entoesiastiese jagter was, is hy gereeld ingeroep om probleemdiere van kant te maak.

Die reusebuffel het die spoorwegstasie se skaal tot op 2 000 lb (907 kg) laat trek. In 1923 het hy besluit om die hotel se naam na Buffalo Hotel te verander.
Na 102 jaar wat dit as die Buffalo Hotel bekend gestaan het, is dié legendariese baken van die Onderberg, nou nie meer nie.
Met ‘n kus gegroet
Op 4 Oktober het die laaste gereelde besoekers van die ikoniese hotel ‘n kans gehad om die ewe legendariese buffelkop, waarvan die hotel sy naam gekry het en wat trots bokant die kroegtoonbank gemonteer is, met ‘n kus te groet.

“Dit was een van die hartseerste dae wat die gemeenskap in jare beleef het,” sê Rautenbach.
Uit die argiewe het Laevelder ‘n staaltjie wat deur Anderson se dogter, Sandra de Beer, oorvertel is, opgediep. In 1936 was daar ‘n reusagtige leeuwyfie wat in die omgewing geplunder het.
“Toe die dier ‘n jong vrou doodbyt, is my pa ingeroep. Dit het behoorlik konsternasie veroorsaak toe daar besef is hoe massief die wyfie regtig was.”
Toekoms onseker
Die dier het 690 lb (313 kg) geweeg en die besonderhede is in die Guinness World Records opgeteken.
Volgens Rautenbach het sy sedert April 2024 die hotel by die eienaar, Stefan van Eeden, gehuur met die opsie om te koop. Daar is egter later gesamentlik besluit om die hotel se deure eerder te sluit.
“Trane het geloop toe die buffel se kop vir die laaste keer by die hotel se voordeur uitgedra is,” sê Rautenbach.

Wat in die toekoms vir die trofee voorlê, is steeds onseker, maar voorlopig sal Van Eeden dit bewaar.



