Local news

Kaapsehoop-hardlopers bring hulde aan oorlede vrywilligers

Daar was talle mededeelnemers wat vir die duo 'n klop op die skouer gegee het vir hul bewusmakingpoging.

Jessica Ney en Carel Pretorius, Hectorspruit-inwoners en hartsvriende van Letta Taylor, Donovan Prince en Zelma D’Hollander, het op 1 November aan die Kaapsehoop 3-in-1 Marathon ter nagedagtenis aan hul oorlede vriende deelgeneem.

Die vrywilligers, Taylor, Prince en D’Hollander, is op 30 Augustus deur ‘n beweerde dronkbestuurder op die N4 tussen Malalane en Hectorspruit raakgery, terwyl hulle besig was om ‘n ongelukstoneel op te ruim. Hierdie drie se verlies het die hele Hectorspruit ongelooflik hard getref.

“Ons is ‘n klein gemeenskap en is almal baie na aan mekaar. Hulle dood het almal tot in die siel geruk!” het Pretorius aan Laevelder vertel.

Dit was nog veel erger vir Pretorius en Ney.

LEES OOK: Malelane Periodical Court to institute another charge against suspected drunk driver accused of killing three safety volunteers

“Don was die eerste persoon wat ons so vyf jaar gelede ná Covid-19 ontmoet het en ons het baie goeie vriende geword. Zelma was die een wat altyd iets gedoen het om die gemeenskap te betrek. Letta was iemand wat altyd glimlaggend byderhand was om mense te help.

“Hulle was ongelooflike goeie mense wat nou weg is, en daarom het ek en Jess besluit om hulle nalatenskap vir so lank as moontlik lewendig te hou.” Ney het aan die 10 km-wedren deelgeneem en Pretorius aan die halfmarathon (21,1 km).

Jessica Ney en Carel Pretorius. > Foto's: Verskaf/Carel Pretorius
Jessica Ney en Carel Pretorius. > Foto’s: Verskaf/Carel Pretorius

Al was die aanvanklike doel om die wedloop ter nagedagtenis aan Taylor, Prince en D’Hollander te hardloop, wou Ney en Pretorius ook bewustheid van algemene roekelose bestuur op Laeveld-paaie onder die mense se aandag bring. “Ons almal ry elke dag dieselfde paaie en sien die roekeloosheid van heelwat N4-gebruikers.”

Hulle poging was ‘n reusesukses. “Daar was deurentyd ‘n klop op die skouer van medehardlopers. Die reaksie voor, gedurende en na die wedloop was oorweldigend en is nog steeds!” sê Pretorius.

“Vir my was die marathon ongelooflik lekker! Ek wou graag ‘n persoonlike beste hardloop, maar het teen die einde erge krampe begin kry, maar dis oukei. Die doel is bereik!”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Blake Linder

Blake Linder is based in Mbombela and is a Senior Journalist at the Lowvelder. He carries with him nearly a decade's worth of experience in media. He has previously worked as News Editor, but now primarily focuses on Sport News, having previously won awards for both his sports writing and photography.
Back to top button