VIDEO | Jeff die seekoei in Mbombela-buurt gesien
Inwoners van Mbombela word gewaarsku om versigtig te ry aangesien seekoei Jeff langs die Kaapsehoop-pad wei.
Die gras is partykeer groener aan die ander kant.
’n Seekoei genaamd Jeff is verlede Vrydag, 21 November, naby Cussonsstraat in Mbombela in ’n spruit gesien. Inwoners van die straat was bekommerd oor die dier se nabyheid aan hulle erwe en het onmiddellik die Mpumalanga Toerisme- en Parkeraad ingelig.
LEES OOK: Hssss…it’s World Snake Day!
Volgens Gait-Jan Sterk, hoofnatuurbewaarder van die parkeraad, het hulle reeds probeer om Jeff te vang, maar dit was nog nie suksesvol nie.
“Ons is tans besig om hom te vang, maar dit is moeilik as mense ons nie vinnig in kennis stel nie,” het hy gesê.
Jeff is gisteraand, 26 November, weer gesien, hierdie keer op die Kaapsehoop-pad, naby die ou Nelspruit-lughawe.
Sterk het verduidelik dat Jeff glo ’n ou bul is wat moontlik uit sy trop geskop is. Die oorsprong van sy naam is nog onbekend.
“Ons probeer om hom gedurende die dag te vang, maar ons weet nie waar hy in die water wegkruip nie,” het Sterk bygevoeg.
Hy het inwoners gevra om die parkeraad onmiddellik in kennis te stel as hulle Jeff sien en nie te wag nie.
LEES OOK: Zazu vs Zippy court battle sparks debate on parrot welfare and pet safety
Sterk waarsku ook motoriste en inwoners om versigtig te ry op die Kaapsehoop-pad in die nag, aangesien Jeff graag dié tyd wei.
