Local news

Merkwaardige herstel vir Mbombela-man na drieverdieping-val

Mbombela-inwoner Johan Mulder (40) het ’n derdeverdieping-val oorleef en is nou besig met ’n merkwaardige herstel.

Johan Mulder (40), ‘n Mbombela-inwoner en kanniedood, moes in sy lewe al baie ontberings te bowe kom.

Hy het al onder andere, ‘n lewensgevaarlike motorongeluk, ‘n skietwond, en ‘n messtekery oorleef.

In Augustus 2024 het hy van sy woonstelbalkon, wat op die derde verdieping in Waterberry Way is, afgeval.

Die woonstelgebou waarvan Johan Mulder afgeval het.
Die woonstelgebou waarvan Johan Mulder afgeval het.

Hy het toe as ‘n lyfwag by Mustangs – The Dancing Place, gewerk en het ongeveer om 02:15 by die huis aangekom.

Johan Mulder.
Johan Mulder.

“Dit was ‘n gewone dag wat binne sekondes verander het – geen waarskuwing, geen tyd om te reageer nie,” het Mulder vertel.

Die sekuriteitsbeampte van die kompleks het eers om 11:00 op hom afgekom en dadelik nooddienste na die toneel ontbied.

“Ek was vir ‘n kort rukkie bewusteloos en het eers na die tyd besef hoe ernstig dit was toe ek in die hospitaal wakker word.”

Mulder het erken dat hy niks van die val kan onthou nie.

“Ten spyte van die hoogte van die val, het ek geen bene gebreek nie. My heup was egter erg beskadig. Ná bykans nege maande van konstante pyn en beperkte mobiliteit, het die dokters op ‘n volledige heupvervangingsoperasie besluit.”

Mulder se operasie was ‘n reusesukses en ongeveer 10 weke later, is hy nog steeds besig om goed te herstel.

Hy het ook omtrent 17 kg na die ongeluk verloor. Hy kry gereeld fisioterapie, swem, stap, ry fiets, en doen staproetes om sy kragte te herwin.

“Die ongeluk was meer as net ‘n val. Dit was die hardste lewensles wat ek nóg moes leer.”

Hy sien daarna uit om die lewe ten volle aan te pak en beplan om selfs aan die 2027 Iron Triathlon in 2027 deel te neem.

“Ek is dankbaar, want ek weet God het ‘n doel met my, en ek probeer elke dag wys dat ek niks as vanselfsprekend aanvaar nie.”

Mulder was vir 19 jaar ‘n verkoopsman in die motorindustrie, maar werk tans vir homself.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Gia Radnai

Gia is a senior journalist at Lowvelder and joined the editorial team in 2025. She started her career as a business journalist in 2022 and decided to pursue her dream of becoming a news reporter instead. She believes in giving people a voice and is known for her community and hard news stories.
Back to top button