Blitsige optrede van vroue red Mbombela ultra-atleet
Twee stappers het waarskynlik Werner Oosthuizen se lewe gered deur hom ná ’n fratsongeluk blitsig na Mediclinic Nelspruit te haas.
“Here, help ons asseblief!”
Só het ’n lid van die Lowveld Rambling Club (stapklub) Saterdag 14 Februarie sonder ophou gebid terwyl daar met die erg beseerde Werner Oosthuizen na Mediclinic Nelspruit gejaag is.
Sy lewe is waarskynlik deur twee stappers se blitsige optrede gered.
LEES OOK: Langasem van Mbombela veg om sy lewe in hospitaal
Toevallig was Elsa Lategan (60) en Annie van Heerden (67) reeds om 07:00 by die Steiltes-natuurreservaat, hoewel die klub se staptog eers om 07:30 sou begin. Die groep sou by 37 Melkwegstraat, oorkant die reservaat se hek, bymekaarkom en van daar ’n 6 km-roete aandurf.

Oosthuizen, ’n ervare ultra-atleet wat verlede jaar die Addo Elephant 100-myler-veldwedloop voltooi het, was ook reeds daar om op die roete te oefen.
“Die hek was gesluit en ek het na my motor gestap om my selfoon uit die bagasiebak te haal om ’n oproep te maak. Werner het na die hek toe gestap,” vertel Lategan. “Die volgende oomblik het hy aangehardloop gekom, met bloed wat onophoudelik uit sy regterarm stroom.”
Hoewel die presiese omstandighede onbekend is, sê sy vriend Damien Kühn dat Oosthuizen oor die palissadeheining wou klim toe die stomp waarop hy gestaan het, omval en een van die vlymskerp palissadepunte sy regterarm deurboor en ’n hoofslagaar afgesny het.
“Hy het my gevra om hom na Mediclinic te jaag,” sê Lategan. Die hospitaal is net meer as ses kilometer van die natuurreservaat. “Ek het my noodligte aangeskakel en op die toeter gelê. Daar was ’n kalmte oor my.”
Terwyl die twee vroue met die erg beseerde Oosthuizen agter in die motor hospitaal toe gejaag het, het hulle gehoor hoe hy onophoudelik bid.
Om die bloeding te probeer stop, het Lategan haar staphemp in die ry uitgetrek en vir hom gegee om op die wond te druk.
Sy het ook gevra aan watter mediese fonds hy behoort en waar hy werk.
“By die hospitaal se hek het ek net geskree: ‘Severe blood loss, emergency!’”
Hospitaalpersoneel het onmiddellik reageer en noodbehandeling toegedien.
Lategan het die nodige dokumentasie voltooi en, voordat Oosthuizen sy bewussyn verloor het, ook sy selfoon se pinnommer gevra sodat sy vrou, Ianthé, gebel kon word.

Oosthuizen is later per ambulans na Belfast vervoer en van daar met ’n ambulanshelikopter na Mediclinic Sandton in Johannesburg oorgeplaas.
“In 2020 het my man, André, van ’n leer afgeval – ook op ’n vlymskerp palissadeheining wat in sy maag gesteek het. Daarom het ek Saterdag geweet wat om te doen. Die Here het ons absolute krag en kalmte gegee,” sê Lategan.
Terwyl hulle by die hospitaal gewag het, was nog ’n stapklublid toevallig daar vir bloedtoetse.
“Ek het oor die berge uitgekyk toe sy vra wat ek daar maak. Ek het die gebeure met haar gedeel, en die dag se staptog is toe afgelas.”
Volgens ’n WhatsApp-boodskap wat aan vriende en familie gestuur is, sterk Oosthuizen goed aan.
“Hy het vanoggend fisioterapie gehad en word na ’n gewone intensiewesorgeenheid verskuif. Sy wond word skoongemaak. Dankie vir al julle gebede.”
