Wêreldroem in Shenzhen deur ons eie Laeveld flora-koning: Leon Kluge
Leon Kluge, Laeveld se eie landskapontwerper, bly steeds internasionaal naam maak.
Die Laeveld se eie landskapontwerper, Leon Kluge, het Suid-Afrika se naam opnuut op die wêreldverhoog geplaas toe hy die Grand Gold Award én die gesogte Best on Show-titel by die Shenzhen Internasionale Blommeskou in China gewen het.
Sy wenontwerp is geïnspireer deur die Laeveld-kastaiïng (Sterculia murex), waarvan die saadkapsule se argitektuur die kernidee gevorm het.

Die tuin is in drie dele verdeel – ‘n sonnige weiveld, ‘n vleiland en ‘n skaduryke heuweltuin – verbind deur ‘n swewende wandelpad wat die kontras tussen natuur en moderne ontwerp uitbeeld.
Die ster van die vertoning was die reuse tjienkerientjee (Ornithogalum saundersiae), ‘n plant wat ironies in China as snyblom gekweek word.
Kluge het dit teruggebring na sy oorsprong en gewys hoe dit in ‘n tuin kan skitter.

Hy het ook die poublom (Dietes bicolor), met sy heldergeel blomme, gebruik as ‘n skakel na die iris-familie – die tema van die hele skou.
Leon beklemtoon dat die oorwinning nie net syne is nie, maar die resultaat van ‘n toegewyde span.
Kunstenaar Tristan Woudberg het die binnewande van die kapsule met pragtige poublom-skilderye versier, wat ‘n moderne kontras van die ruwe buitekant beklemtoon het.
‘n Plaaslike Chinese bouspan het saam met hom gewerk om die strukture en wandelpad te bou, dikwels met behulp van vertaal-toepe om kommunikasie te vergemaklik.
LEES OOK: SA takes gold at world’s foremost flower show
Suid-Afrikaanse plantverskaffers het gesorg dat die unieke flora van die Laeveld en Drakensberge in die tuin kon skitter.
“Hierdie is mý vorm van kuns,” het Kluge aan Laevelder gesê.
“Ek gebruik soveel as moontlik organiese materiale, en alles word ná die skou herplant of hergebruik. Dit gaan oor volhoubaarheid én oor die stories van ons plaaslike flora.”
Kluge se liefde vir skoutuine het reeds as kind begin by die orgideë-uitstallings in die Laeveld Nasionale Botaniese Tuin in Mbombela.
Vandag plaas hy die Laeveld en sy unieke plante op die wêreldtoneel van landskap- en blomkuns.
LEES OOK: Leon Kluge wen weer goud by Chelsea
Hoewel hy nog nie sy Chelsea Blommeskou, wat eersdaags plaasvind, se ontwerp kan onthul nie, verklap hy dat vuur ‘n groot rol gaan speel, wat ‘n dramatiese en betekenisvolle toevoeging beloof.

