Kaapsehoop-pad ‘n lus vir die oog danksy vrywilligers
Danksy die Kaapschehoop Bewaringsinisiatief is die roete na Kaapsehoop 'n lus vir die oog.
‘n Skoon omgewing is ‘n aangename omgewing – dit is ‘n veilige plek vir diere en nie ‘n seeroog vir toeriste nie.
En danksy inwoners en vrywillers van Kaapsehoop, bly die roete na dié dorpie ‘n skilderagtige lushof.
Luidens een van die vrywilligers, Susan Bruwer-Morris, word hierdie aksie aangevuur deur die Kaapschehoop Bewaringsinisiatief, gelei deur Carli Scheepers.

Hulle poog om minstens vier keer per jaar met hulle skoonmaakveldtog iets vir die omgewing te doen. Saterdagoggend, 11 April, het Laevelder die vrywilligers op die roete ontmoet.
Geklee in veiligheidsbaadjies en met swartsakke in die hand, is die groot skoonmaak – 2 km voor Kaapsehoop vanuit die rigting van Mbombela en 2 km af na Ngodwana – aangedurf.
LEES OOK: Bordjies teen die muur in Kaapsehoop-gastehuis vertel ‘n duisend stories
Van die skokkendste ontdekkings langs die roete was die aantal alkoholbottels en bierblikkies wat gevind is. Wegneemete-bakkies en ander rommel is ook opgetel.

“Kan ek ook noem? Kondome, ‘n paar skoene wat nog redelik goed gelyk het, ‘n stoel, ‘n motorband en ‘n stel onderklere is ook al in die verlede opgespoor,” het Bruwer-Morris bygevoeg.

Laevelder en die gemeenskap kan ‘n veer in elke vrywilliger se hoed steek vir die sweet teen hulle aangesigte ná die kilometers wat hulle stap vir ‘n skoon omgewing; dit verdien meer as ‘n pluimpie.
Bruwer-Morris verklaar dat hulle ‘n duidelike boodskap met die inisiatief wil uitdrae. “Ons wil graag mense bewus maak van die verantwoordelikheid om na jou omgewing te kyk en dit te bewaar.”
“Ons is redelik veilig op die pad, want ons dra ons reflekteerderbaadjies en ons is twee-twee in ‘n span,” vertel Bruwer-Morris.
Al die vrywilligers is inwoners van Kaapsehoop en wissel in ouderdom vanaf 17 jaar tot en met ‘n merkwaardige 70 jaar en ouer.

Hulle probeer soveel as moontlik doen vir die bewaring van die omgewing, soos byvoorbeeld die verwydering van indringerplante. Patrollies gaan uit om die perde te gaan soek om hulle kondisie vas te stel.
Diere wat gesien word, soos onder andere vaalribbokke, word aangemeld.
“Ons sal baie graag vir die jongmense van vandag wil leer hoe belangrik dit is om ons omgewing te bewaar,” het Bruwer-Morris afgesluit.
Die vrywilligers kan, net soos die wildeperde in Kaapsehoop, maar trots stertswaai op hierdie bewaringsinisiatief.
LEES OOK: Kaapsehoop wild horse numbers dwindling














