Local news

Bordjies teen die muur in Kaapsehoop-gastehuis vertel ‘n duisend stories

Soveel bordjies, soveel stories in Kaapsehoop-gastehuis maak ’n mens lus om te reis en te versamel.

“Probeer ten minste vaspen
‘n Bietjie van die aard
Van die dinge wat jy liefhet en onthou
Soos ons ernstige woorde oor die dinge
van belang
Wat nou reeds stom in gange hang
Stuur vir my ‘n foto, ‘n Duidelike beeld
Van ‘n plek waar ons al saam was –
Of heen wou gaan
Dalk ‘n horison, ‘n waansin, ‘n hawe of ‘n bos…”

Met dié refrein van Lauricha Rauch se bekende lied, “Stuur vir my ‘n foto”, wat deur jou kop oorwurm terwyl jy in die eetkamer van die Kaapsche Hoop Gastehuis sit en die reuk van vars koffie jou warm omvou nadat die mis begin verdwyn, raak ‘n persoon sommer nostalgies as die 26 geraamde bordjies teen die muur van, regoor die wêreld, stil vir jou loer.

LEES OOK: Poësienaweek in die berg: ’n Digterlike belewenis om te onthou

En terwyl jy ontbyt geniet, voel dit spreekwoordelik asof jy in ‘n treinkompartement sit en deur die lande wat die bordjies verteenwoordig, reis.

Ria Bothma se versameling bordjies.
Ria Bothma se versameling bordjies.

Van plakkers, foto’s en bordjies

Laevelder het gaan kersopsteek by Ria Bothma, eienaar van die gastehuis, oor dié unieke versameling. En nostalgiese versamelaars ís die Bothmas, van lisensieskyfies tot foto’s en dan natuurlik, die bordjies.

Bothma vertel dat die bordjies deel is van ‘n verskeidenheid memorabilia van hulle reise.

“Lisensieskyfplakkers en plakkers van plekke word teen ons daktent op die bakkie geplak. Sommiges dink seker dit is kitsch. Vir my is dit beeldmateriaal van spesiale tye. Ek en Neels (haar man) het derduisende foto’s en wie kyk daarna?” vra Bothma.

Tong in die kies sê sy dat ‘n uitnodiging aan mense om na jou foto’s te kyk, dieselde vrees en afgryse van ouds behoort op te roep toe daar uitnodigings was om na die gevreesde home movies te kyk ná Sondag- middagete.

En haal hulle graag ‘n foto-album of twee uit?

“Indien dit ‘n reisverhaal inkleur of selfs ‘n ongelowige Thomas moet oortuig van iets, sal ons ‘n foto opdiep. Dit gebeur egter net op aanvraag.”

Liefde vir reis en die bordjies begin

Sedert Ria en Neels se jongdae was hulle lief vir reis.

“Finansies het bepaal dat ‘n reis beperk was tot die drie-uur-besoeke aan ons onderskeie ouers en later van tyd die avontuurgevulde, dolle gejaag na die Kaap om my boetie te besoek. Dit alles vanaf Vrydagmiddag uit Pretoria vertrek tot tuiskoms Sondagnag,” vertel sy.

Ria se eerste oorsese reis was na die Britse eilande, en vreemd genoeg, het sy niks behalwe foto’s teruggebring nie.

Ria Bothma se versameling bordjies.
Ria Bothma by haar versameling.

“Dit is eers nadat vriende, Pieter en Magda Joubert, ons uit Switserland gedwing het om te kom kuier dat die bordjies begin het.”

En watter een was haar eerste bordjie?

“Ek het geen idee nie, maar dit was moontlik die een uit Titisee in die Swartwoud. Dit is ‘n lieflike toeriste slagyster langs ‘n meer waar die ongelooflikste horlosies te koop is – van polshorlosies tot reusagtige staanhorlosies – wat selfs Elon Musk sou laat sidder het oor die prys. Daar is klere, vreemde kossoorte en natuurlik sierbordjies, van piepklein tot unieke eetstelle,” vertel sy nostalgies.

Die bordgogga het gebyt

Vandaar het die versameling gegroei met bordjies wat herinner aan spesiale oomblikke of plekke wat nou teen die eetkamermuur in die gastehuis pronk.

LEES OOK: Die Natsteen- en Boekenaweek was weer nommerpas

“Dié een van Londen, het Neels en my geduldige nefie seker rasend gehad. Ek het ‘n bepaalde bordjie in my kop gehad en het van winkel tot winkel gestap op soek daarna. Ek het eindelik een gekry ná byna ‘n hele dag se stappery deur Londen se strate – winkeltjie in, en winkeltjie uit – op soek na ‘n bord wat nie bestaan nie,” vertel sy.

“‘n Reis wat ek bitter graag weer sal wil doen, is die drie mere in die Groot Skeurvallei. Mosambiek, Malawi, Tanzanië, Madagaskar, Zambië, Namibië, Botswana en tuis. Dit was twee maande van wonderlike ervarings.”

Maar teen die muur, nou hier in Kaapsehoop, pryk ‘n totaal van 26 reisborde waarvan sommiges twee of meer stede in ‘n bepaalde land verteenwoordig.

Elkeen met ‘n storie, sommiges lank en ander kort, party nuut en ander gebreek.

Haar nuutste toevoeging teen die muur én seker een van die grootstes, is van die egpaar se mees onlangse reis.

“Die reisbord is vanaf Chicago, tydens ons tweede besoek aan my dogter in Michigan.¨

Mens kan jouself voorstel dat dit vir ‘n perfekte kaasbord en beskuitjie opdiening gebruik kan word.

Dan vra jy jouself af of ‘n mens uit haar bordjies teen die muur kan eet?

“Ek weet nie. Sommiges het metaalneerslae op wat beslis beskadig sal word. Die meeste sal ‘n skamele voorgereg kan inhou en om dit te was, kan lei tot ‘n glipsie soos met my bord uit Rothenburgh, Duitsland, wat gebreek het. Daardie bepaalde bord was ‘n prentjie van die mees besondere stad wat ons ooit besoek het. Dit opsigself vervat baie stories. Ons het dit probeer aanmekaar plak, maar nee, dit het nie gewerk nie,” vertel sy half mismoedig.

Was dit haar mees besonderste?

“Miskien, maar ek twyfel. Elkeen is besonders.”

Baie persone wat reis, versamel ook teelepels van dorpe, en Ria?

“My ma het teelepels van dorpe in Suid Afrika versamel. Dit neem minder plek op, maar dit is byna soos home movies en ek het hulle almal nog.

‘n Glasbord vir ete of wegneem-ete houer?

En sou hulle reis, sal hulle rys eet uit ‘n wegneemhouer?

Haar antwoord is vinnig.

Met Ria se uitsonderlike talent ook vir die kookkuns, is haar antwoord: ‘n ware ete word in ‘n ware bord geëet.

“Ons eet moeilik op ons skote en nog moeilker uit ‘n wegneemete-houer. Tensy dit heeltemal onvermydelik is, sit ons aan ‘n tafel en eet uit ‘n keramiekbord,” vertel Ria.

Dit is Ria se 26 bordjie-storie.

As jy weer Kaapsehoop besoek – gaan loer gerus in – die versameling is iets om te beleef.

Dit sal jou minder as 15 minute neem om deur 26 stede wêreldwyd met jou oë te toer.

Die bordjies hang stom teen die muur, maar Ria en Neels se prentjies van onthou, laat jou verstom.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Bertus de Bruyn

Bertus de Bruyn is based in Mbombela, Mpumalanga. De Bruyn has been employed by Caxton since 2009. After a short sabbatical of two years, De Bruyn is back at the place he called home, Caxton, at Lowveld Media. He is currently the digital content manager, but has 14 years of journalism skills, news editor, and acting editor duties behind his name.
Back to top button