Laerskool Nelspruit se “oom John” steeds hier om te bly
Bekommerde Laerskool Nelspruit ouers en leerders het hul steun vir geliefde hekwag, John Mhlongo, op sosiale media uitgespreek.
’n Eenvoudige high five tussen Laerskool Nelspruit se geliefde hekwag, John Mhlongo, en ’n leerder het groot opspraak in die skoolgemeenskap veroorsaak.
Daar is tans baie spekulasie op sosiale media oor die aard van die voorval, maar Laevelder kon dit nie onafhanklik bevestig nie.
Groot kommer het onder leerders en ouers uitgebreek nadat Mhlongo nie meer sy gewone high fives uitdeel nie.
Sy bestuurder, Callum MacPherson van Securicon, het intussen bevestig dat Mhlongo nêrens heen gaan nie.
“John gaan nie die skool verlaat nie. Hy is al byna 15 jaar in my span en is ’n integrale deel van my span. Die bekommernisse wat geopper word sal hanteer word in ooreenstemming met veiligheid en sekuriteit, terwyl gepoog word om die geskepte kultuur in plek te hou,” het hy op Facebook gesê.
In ’n onlangse skrywe het die skoolbestuur verduidelik dat die voorval tans nog ondersoek word.

“Die skool is besig om alle feite, omstandighede en verskillende perspektiewe deeglik te oorweeg en sal binnekort met ’n vriendelikheids-aksieplan na ons skoolgemeenskap en die breër publiek terugkeer.”
Die skool het ouers verseker dat die veiligheid van leerders, ouers en personeel te alle tye die hoogste prioriteit bly.
Mhlongo is bekend vir sy vriendelike persoonlikheid en die wyse waarop hy ouers, personeel en leerders daagliks groet en beskerm.
LEES OOK: Die man met die helder glimlag by Laerskool Nelspruit
Ouers het intussen hul menings op sosiale media gelig.
“Ag nee! Ek is ’n nuwe ouer wat van ’n ander skool af geskuif het, en hy was een van die eerste mense wat ons welkom laat voel het by die nuwe skool. Daai mense wat sê hul tyd word gemors, kan maar vyf minute vroeër opstaan in die oggende, want hul haastigheid het nou veroorsaak dat baie kinders en ouers se dag doodnormaal begin. Hierdie vriendelike man het gemaak dat die skool uitstaan bo die res. Ek hoop nie die hoof los dit nie,” skryf Marisca Müller.
“Reël asseblief met die sekuriteitsfirma dat hulle hom Laerskool Bergland toe stuur. Ons sal vir oom John met ope arms aanvaar,” sê Wieland Simon Claude Jordaan.
“Laerskool Nelspruit?! Ek dink regtig julle moet hierdie regstel. #SeeTheBiggerPicture #BringJohnBack,” skryf Maryke de Wet.
“En as ek reg is, ken hy omtrent elke kind se naam. Hy het my al ’n paar keer gehelp om my kind te soek wanneer ek vir hom moes wag,” sê Crizel van der Schyff.
Mhlongo werk al drie jaar by die skool, en daar is ook al voorheen deur Laevelder oor sy spontane persoonlikheid berig.
Sy teenwoordigheid by die skool word sterk aangevoel, en hy word selfs gemis wanneer hy met verlof is.
