Die man met die helder glimlag by Laerskool Nelspruit
John Mhlongo se opregte vriendelikheid en liefde vir mense verhelder elkeen wat deur die hekke by Laerskool Nelspruit ry se dag.
Maandagoggend, 10 Februarie, was daar ’n vreemde gevoel van leemte by Laerskool Nelspruit.
Die atmosfeer was gedemp, en iets het net nie reg gevoel nie. Die rede? John Mhlongo was met verlof.
Van die begin van die skooljaar is hy die vriendelike gesig wat ouers soggens by die skoolhek met ’n glimlag verwelkom.
LEES OOK: Laerskool Nelspruit se graadeens pak nuwe hoofstuk aan
Maar wie is die man wat almal se dag ophelder? Laevelder het met hom gesels om meer te wete te kom.

Mhlongo is 45 jaar oud en kom van Mataffin. Wat dryf hom om elke dag met soveel positiwiteit te begin? Sy antwoord is eenvoudig.
“Ek is ’n vriendelike mens. Ek is ’n Christen en ek hou daarvan om ander mense gelukkig te maak. Ek het ’n liefde vir mense.”
Vir baie ouers en leerders het hy ’n bekende gesig geword, iemand wat met net ’n eenvoudige goeiemôre en ’n glimlag ’n verskil maak. Dit kos niks om vriendelik te wees nie, sê hy, maar dit beteken baie vir ander.
LEES OOK: IN FOTO’S: Potte prut en water spat tydens Laerskool Nelspruit se fees
Wanneer hy by die skoolhek staan, sien hy nie net motors verbygaan nie. Hy sien mense, moeë ouers, haastige gesinne, kinders wat nog slaperig is – en vir hom is elkeen belangrik. “As ek iemand se dag net ’n bietjie beter kan maak, dan is ek gelukkig,” sê hy.
Mhlongo se positiewe gees en opregte vriendelikheid het hom ’n geliefde figuur by dié skool gemaak.
Hy is terug, met dieselfde warm glimlag waarmee hy elke oggend begin.
