Local news

Voormalige laerskool-onderwyseres se afsterwe laat Lydenburg-gemeenskap rou

Tannie Mart Cronjé sal onthou word as 'n geliefde onderwyseres, mentor en gemeenskapsfiguur wat diep spore in Lydenburg getrap het.

Lydenburg en in besonder die gemeenskap van Hoërskool Lydenburg is erg bedroef deur die skielike afsterwe van tannie Mart Cronjé vroeër vandag, 22 Junie.

Sy was ‘n geliefde voormalige onderwyseres en bekende figuur in die gemeenskap.

Tannie Mart was met die voormalige hoof van Hoërskool Lydenburg, oom Thys Cronjé, getroud.

Haar afsterwe kom as ‘n groot skok vir diegene wat bekend was met die geliefde onderwyser-egpaar.

Oom Thys het vir 29 jaar met lof aan die hoof van Hoërskool Lydenburg gestaan tot sy aftrede in 2011. Saam het hy en tannie Mart diep spore in die skool en die breër gemeenskap getrap.

Die waarnemende hoof van Hoërskool Lydenburg, Chrismari Aucamp, het aan die koerant vertel dat tannie Mart ‘n besondere onderwyseres was wat deur die jare diep spore in die harte van baie mense getrap het.

“Vir baie inwoners van ons dorp was sy nie net ‘n toegewyde onderwyseres nie, maar ook iemand wat met opregte belangstelling, vriendelikheid en warmte in mense se lewens betrokke was. Sy was deel van ‘n era wat ‘n blywende invloed op die onderwys en gemeenskap van Lydenburg gehad het.”

Aucamp meen dat tannie Mart veral onthou sal word vir haar groot liefde vir hokkie.

“Langs die hokkiebaan was sy ‘n bekende en geliefde figuur – iemand wat spelers aangemoedig, ondersteun en geïnspireer het. Haar passie vir die sport en haar betrokkenheid by jongmense het haar ‘n ware legende langs die hokkieveld gemaak.

“Wat haar egter besonders gemaak het, was haar lewenslus. Selfs in haar latere jare het sy ‘n voorbeeld gestel van hoe om die lewe voluit te leef. Sy het steeds golf gespeel, pilates beoefen en gereeld gaan stap. Haar energie, positiewe ingesteldheid en aktiewe leefstyl het bewondering ontlok by almal wat haar geken het,” meen Aucamp.

Volgens haar lê tannie Mart se nalatenskap nie net in haar jare van diens by Laerskool Lydenburg nie, maar ook in die talle lewens wat sy aangeraak het deur haar omgee, haar entoesiasme en haar liefde vir mense.

“Sy laat ‘n leemte wat moeilik gevul sal word, maar ook kosbare herinneringe wat vir altyd gekoester sal word. Ons opregte meegevoel gaan aan oom Thys, hul kinders, kleinkinders en die hele Cronjé-familie. Mag hulle troos vind in die mooi herinneringe aan ‘n geliefde eggenoot, moeder, ouma, vriendin en gemeenskapsmens.”

Gedurende hul jare in Lydenburg het die Cronjés ‘n integrale deel van die skool en die breër gemeenskap geword, en die respek en liefde van kollegas, leerders, ouers en inwoners was onmiskenbaar.

Terwyl boodskappe van simpatie instroom, dink baie mense na oor die belangrike rol wat die Cronjé-familie gespeel het in die vorming van die skool se karakter en uitnemendheid.

Tannie Mart was nie net ‘n merkwaardige vrou wie se lewe ‘n blywende indruk gelaat het op almal wat die voorreg gehad het om haar te ken nie, maar ook ‘n integrale deel van Hoërskool Lydenburg se geskiedenis.

Meer inligting oor haar gedenkdiens sal volg.

  • Die artikel is ná publikasie aangepas. Tannie Mart Cronjé was ’n voormalige onderwyseres by Laerskool Lydenburg, nie Hoërskool Lydenburg nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button