Local news

KYK: Laevelder se flinkdink red stappers uit Visrivier-canyon

Danksy Driekie Heyns se instink, kon haar satellietfoon nooddienste na die kloof ontbied.

 Vir Driekie (53) en Pieter Heyns (68) was ‘n onlangse staptoer in die Visrivier-canyon ‘n belewenis wat hulle nooit sal vergeet nie. Maar, volgens Pieter, ook nooit weer sal aandurf nie!

Pieter en Driekie Heyns.
Pieter en Driekie Heyns.

Driekie se flinkdink en haar laaste minuut-besluit om ‘n satellietfoon saam te neem, het daartoe gelei dat 17 stappers veilig uit die kloof ontruim kon word. Die paartjie was byna twee dae lank daar gestrand weens onverwagse vloede. Die massas reënval het ook veroorsaak dat die sluise van die Nautedam oopgemaak moes word.

LEES OOK: Watch: Helicopter crew rescues Bourke’s Luck hikers

Die paartjie het die staptoer op 18 Junie saam met 13 ander stappers begin en sou die roete ná vyf nagte en ses dae voltooi. Met tente en rugsakke vol kos het hulle in die pad geval. Op die derde aand het die toer egter lewensgevaarlik geword toe onophoudelike reën begin uitsak het.

“Toe ek weer sien, was ons tent 10 cm onder water en alles was nat,” vertel Driekie.

In die donker nag het die reën die rivier al hoe meer laat opstoot en moes die stappers na hoër grond beweeg. Die gids, Eric McLaren, wat die roete al 34 keer gestap het, het die stappers probeer kalm hou.

LEES OOK: Man sentenced to 25 years for murder of German tourist

Volgens Driekie het ‘n ander groep met twee Suid-Afrikaners en twee Amerikaners paniekerig op hulle afgekom. “Hulle het geen kos meer gehad nie en een van hulle tente het nie pale gehad nie.” Die groep het uit desperaatheid by hulle aangesluit. Hulle het die volgende dag sowat 1,8 km saam verder gestap en probeer om die magtige rivier by Pink Rock oor te steek.

Stappers skuif na hoër grond.

“Die rivier was te sterk en ons was op daardie punt gestrand.”

Driekie voeg by dat dit nie hul grootste probleem was nie. Die dokter in die groep het tydens ‘n rivierkruising vroeër in die toer geval en sy enkel beseer.

“My man en die dokter is ook deur skerpioene gesteek.” Gelukkig het die groep ‘n bekwame Kanadese verpleegster gehad wat die twee versorg het.

Die stappers het kos en droë klere onder mekaar gedeel. Driekie se blink idee om ‘n satellietfoon saam te neem, het daartoe gelei dat nooddienste na die toneel ontbied kon word.

Die Visrivier-canyon in vloed. Foto: Eric McLaren/Facebook

“Ek het op die laaste minuut besluit om my satellietfoon saam te vat nadat die gids ons aangeraai het om so lig as moontlik te reis,” sê sy.

Hoewel die gids ook ‘n satellietfoon gehad het, kon sy toestel slegs boodskappe stuur en het die boodskappe gesukkel om deur te gaan. Danksy Driekie se goeie instink kon die groep hulp ontbied. ‘n Militêre helikopter is ontplooi, maar moes eers ander stappers prioritiseer, waaronder ‘n groep leerlinge van Kaapstad wat elders in die kloof gestrand was.

LEES OOK: Vriende durf visrivier-canyon te voet aan

Driekie het kalm gebly en verseker dat die stappers se families gereeld op hoogte gehou word. Terwyl die groep vir die helikopter gewag het, het Driekie ook video’s van die ander stappers gemaak om hul ervaring te deel.

“Van die stappers was hewig ontsteld en ek het gedink die video’s sou help om hulle aandag af te trek,” verduidelik sy.

Maandag is die groep uiteindelik veilig ontruim en kon hulle uitsien na droë klere en ‘n warm bord kos.

Driekie erken dat wanneer sy eers iets begin, sy dit moet voltooi. “Ek sal vir seker weer die roete aandurf. Om die rivier in vloed te aanskou, is iets wat mense nie sommer in hul leeftyd sal ervaar nie.” Pieter het laggend in die agtergrond bygevoeg:

“Ek wil nie, ek sal nie en ek gaan nie weer nie!”

Die Visrivier-canyon lê die Sabie-paartjie na aan die hart omdat hulle in die Noord-Kaap en Namibië grootgeword het. “Hierdie reis was vir my sinoniem met die lewe. Jy moet ontslae raak van jou bagasie om ligter te trap.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Gia Radnai

Gia is a senior journalist at Lowvelder and joined the editorial team in 2025. She started her career as a business journalist in 2022 and decided to pursue her dream of becoming a news reporter instead. She believes in giving people a voice and is known for her community and hard news stories.
Back to top button