Vriende durf visrivier-canyon te voet aan
Op 30 Mei 2014 het 'n groep vriende die tweede grootste canyon ter wêreld met een van die gewildste staproetes in Suider-Afrika aangedurf.
KOMATIPOORT – Op 30 Mei 2014 het ‘n groep vriende die tweede grootste canyon ter wêreld met een van die gewildste staproetes in Suider-Afrika aangedurf.
Michiel en Zelda Fürstenberg, Gerrie en Marian du Plessis, Graham en Esta Rolfe, Willem en Elmarie Blom, Charlie, Karien en Sofie van Veyeren, Joelene Caldeira, Stella du Preez en Hannetjie Hurter het deel uitgemaak van die groep.
Die canyon is oor miljoene jare deur die vloedwaters van die Visrivier en die wind oopgespoel en -gewaai. Dit is ‘n wildernisgebied en daar is geen kamp of oornagfasiliteite nie. Wees maar gewaarsku, hierdie is nie ‘n wandeling in die tuin nie.
Die staproete strek vir 90km van die beginpunt tot by Ai-Ais. As gevolg van die hoë temperature in die somer en die moontlikheid van kitsvloede word permitte slegs vanaf 1 Mei tot 31 Augustus uitgereik. ‘n Mediese sertifikaat van jou geneesheer is ook verpligtend en moet by die kontrolepunt by Hobas naby die Noordelike beginpunt, ingehandig word.
‘n Mens moet stapfiks wees voordat jy die Visrivier-roete aanpak en verkieslik twee na drie lang staptogte agter die rug hê. “Dit het ons vyf dae geneem om die afstand af te lê. Die roete bestaan meestal uit groot klippe en rotsblokke of dik sand. Daar is verskeie bakens onderweg waarvoor mens elke dag mik, soos die swaelbron “Palm Springs” sowat 16km van die beginpunt af. Ander bakens is Tafelberg, die viervingerrots en die graf van ‘n Duitse soldaat.
Die paadjie na die bodem van die canyon is reguit af en jou knieë en bobene raak lam. Die uitsig en natuurskoon is veronderstel om jou asem weg te slaan, maar op daardie tydstip kan mens nie stilstaan om dit te waardeer nie. Jy konsentreer ten volle op waar jou volgende tree gaan wees. Besluit verkeerd, en jy sal nie net met gebreekte bene daarvan afkom nie. Kettings is by die steilste gedeeltes aangebring om aan vas te hou.
Die rivier was lekker vol na ‘n goeie reënseisoen en het dus genoeg water gehad om die dors te les. Saans is daar op die rivieroewer kamp opgeslaan. Om onder die sterrehemel te slaap was ‘n voorreg. Die natuurskoon is asemrowend en die rotsformasies soos in die boeke.
Die laaste dag mis ons ‘n kortpad en stap gevolglik 10 uur langer. Ons kom doodmoeg, met seer spiere en party voete vol blase by Ai-Ais aan. Yskoue bier en ‘n heerlike aandete is ons beloning. Die kamaraderie is eg en hegte vriendskappe is gesmee.
Eenkeer in mens se lewe is dit goed om so ‘n staptog aan te pak om weer jou kop skoon te kry en nuwe moed vir die lewe te skep,” vertel Joelene Caldeira.
