VIDEO: Die Louws verras met alles behalwe lou komedie tydens Innibos
Die vertoning was humor op sy beste met ’n hele paar lewenslesse.
Met sewe skilderye wat die lewe en die huwelik op humoristiese wyse uitbeeld, het die vertoning Magda Louw en haar Erhard, how Louw can you go? die gehoor op ’n komiese reis vol herkenbare waarhede en raak lewenslesse gedurende die Innibos Kunstefees by Laerskool Laeveld geneem.
Die bottom line:net soos ’n lelike skildery bewonder kan word, kan die lewe vrolik gehou word.
LEES OOK: Innibos-val laat nie Amanda Strydom se kollig verdof
Die uitstekende ensemblewerk tussen Desiré Gardner en Hannes van Wyk het die staande applous ten volle verdien.

Hul natuurlike spel, uitstekende komiese tydsberekening en geloofwaardige chemie dra die produksie van begin tot einde.
Met skerp kwinkslae, slim woordspel en Erhard se gereelde ‘vergeetagtigheid’ – alles doelbewus binne die teks – is hierdie ’n moet-sien produksie.

Desiré se gereelde verskonings aan die gehoor ná ’n ‘rowwe’ woordjie, het op sigself groot vermaak verskaf.
Soos Magda Louw, vertolk deur Desiré Gardner, self sê: “Jy verdien ekstra punte.”
Die verskonings was egter heeltemal onnodig.
Die fyn regie, sterk teks en uitmuntende komiese spel maak hierdie produksie ’n ware teaterbelewenis.
Tussen al die humor skuil daar ook waardevolle lewenslesse wat pitkos vir die siel is – veral vir getroude paartjies.

Soos Magda tereg opmerk: “Daar is nie ’n beter pleister in ’n huwelik as ’n pleister nie.”
Al is Erhard, vertolk deur Hannes van Wyk, soms op Magda se laaste senuwee, vorm hierdie liefdevolle paartjie ’n absolute juweel op die verhoog.

Tanita Pretorius het ná afloop van die vertoning gesê: “Dit was baie vermaaklik, glad nie voorspelbaar nie en daar was baie verrassings.”
Die produksie
Magda en Erhard het ’n goeie show beplan wat dalk selfs vir ’n prys benoem kan word. Maar die ou man vergeet heeltyd waar hy moet inkom en arme Magda moet net vure doodslaan. Selfs die dans is maar louwarm – met die klem op Louw.
Magda en Erhard gesels oor die kuns van die lewe, die verskillende fases van oudword, hoe ons almal met die verfpot in die hand staan en eers buite die lyne inkleur tot die kwas uiteindelik droog word en ons nie meer kan dink aan prentjies om te teken nie.

Maar ten minste kan ons dié wat daar is nog bewonder… Die produksie het vier benoemings by Momentum Aardklop in 2025 ontvang. Sou jy ooit die geleentheid kry om na die produksie te gaan kyk, is dit een wat jy nie wil misloop nie.
Die teks is deur Desiré Gardner geskryf en die regie is behartig deur Gardner en Hannes van Wyk.
