Innibos-val laat nie Amanda Strydom se kollig verdof
Amanda Strydom bly positief na haar val by 'n gastehuis tydens Innibos.
As alles goed verloop, is Tillie Mathilda oor 12 weke terug op die verhoog.
Die geliefde aktrise, kabaret en vermaaklikheidskunstenaar, Amanda Strydom, wat op 23 Julie haar 70ste verjaardag vier, sterk aan na haar operasie in ’n Johannesburgse hospitaal.
Saartjie Botha, dramaturg en direkteur van die Woordfees op Stellenbosch en ook ’n persoonlike vriendin van Strydom, sê die kabaretster bly positief.
LEES OOK: Amanda Strydom positief ná val tydens Innibos
Vorige heupvervanging beskadig
“Amanda het by die gastehuis waar sy tydens Innibos tuisgegaan het, gegly en geval. In die proses is die prostese van ’n vorige heupvervanging beskadig,” verduidelik Botha. Maar dat die voorval die kollig op Strydom se blink loopbaan op die verhoog gaan verdof, is daar geen sprake nie.
Tydens Innibos moes Strydom ongelukkig haar boekgesprek met Coenie de Villiers en Jak de Priester misloop, asook haar produksie by die Vryfees uitstel.
Amanda se boodskap
“Na afloop van ’n wonderlike Innibos het die noodlot my onkant betrap. Ek het gestruikel en sleg geval. Ek en die wonderlike mense om my het dit stil gehou, want ons het nie geweet wat die skade is nie. Ek wens ek kan met elke vriend en die talle mense wat omgee, kommunikeer. Wees verseker dat ek julle goeie wense aanvoel en opreg waardeer. The show must and will go on! Lief vir julle,” het Strydom op Facebook geskryf.

Tillie Mathilda, ’n kabaret saam met die Binnelanders-aktrise Je-Ani Swiegelaar, het groot gehore gelok.

Die produksie is deur baie feesgangers as een van Strydom se bestes tot op hede beskryf.
“Niks gaan vir Mathilda terughou nie! Sy is ’n vegter en ’n survivor, soos Amanda ook is. Sy bedank al haar volgelinge vir hulle boodskappe, goeie wense en voorbidding. Hulle is vir haar ’n motivering om vinnig te herstel. Natuurlik is Amanda se plan om Innibos weer te besoek. Dit sal ’n voorreg wees indien sy weer genooi word.” het Botha vertel.
Innibos wens beterskap toe
Sandra Jacobs van Innibos wens namens die Innibos-feeskommitee ook vir Strydom beterskap toe “Liewe Amanda, ons wens jou spoedige beterskap toe. Mag jy sommer gou weer huppel, sing en dans! Jy bly ’n legende.”
Amanda Strydom verjaar
Vir Strydom wat volgende week 70 word, is daar nog geen planne vir afskaal nie.
Van een ding kan aanhangers seker wees: Hulle sal hierdie legende weer binnekort sien rock in haar taal.