600 km deur koue en reën stop nie veldtog vir olifante
Die koue is oor 600 km trotseer vir die trop olifante by Kapama.
Koue, mis en reën is van die uitdagings wat Kyle Malyon en Lauren Lewis tydens hul 600 km lange By Any Means-veldtog moes trotseer om geld vir HERD se wees olifante by Kapama in te samel.
Die twee het ‘n verskeidenheid vervoermiddels – van skaatsplanke, motorfietse en klassieke motors tot ‘n trein – ingespan om hul reis van Johannesburg na Kapama te voltooi.

Laevelder het na afloop van die reis in Witrivier met Malyon en Lewis gesels oor die eienaardige avontuur en wat hulle, buiten vir ‘n fondsinsameling vir die Jabulani-olifanttrop, geïnspireer het om dit aan te pak.
Olifante na aan die hart
“Olifante lê my na aan die hart. Die manier waarop hulle met mekaar kommunikeer, fassineer my en laat my baie dink aan hoe my vriende en familie met mekaar kommunikeer. Ek het ook besluit om die olifant as my persoonlike geestelike dier te kies waarmee ek kan assosieer,” sê Malyon.
Malyon, ‘n verhoudingsbestuurder by Denoon Sampson Ndlovu Prokureurs, spog met vier olifanttatoeëermerke op sy linkerarm. Hy is ‘n avontuurliefhebber en pak gereeld uitstappies met sy motorfiets, klassieke motors of sy Jimny aan.

Die By Any Means-reis het Woensdagoggend, 12 Augustus, op ‘n skaatsplank in Johannesburg begin, waarop hulle sowat 100 meter afgelê het.
Daarna het hulle met ‘n 1948 Ford F100 tot by die Gautrein-busterminaal gereis. Hulle het toe per bus na die Gautreinstasie gery en die trein na hul volgende bestemming geneem.
Daarna het hulle oorgeskakel na ‘n nuwe 2026 Triumph Street Twin.
‘n 1981 MG Roadster, ‘n 1985 Bentley en ‘n 2026 BMW F800-motorfiets, geborg deur BMW Mbombela, is ook vir die reis ingespan.
“Ek moet spesiale vermelding gee aan Working on Fire van Mbombela, wat ons van die stad af Hoedspruit toe sou vlieg, maar die weer het dit nie toegelaat nie.”
Die twee het uiteindelik met ‘n Avis-huurmotor hul laaste skof na Hoedspruit aangepak. Die rit is deur Be Lekker Brew, ‘n musiek- en produksiemaatskappy, geborg.
“Alles het seepglad verloop. Dit was net bitter koud en ons moes die mistige en reënweer trotseer.”
Sal hulle weer so ‘n avontuur aanpak?
“Vir seker. Ons sal net seker maak dit is nie weer so bibberkoud nie. Dit was veral koud op die motorfietse,” vertel Lewis.
Hulle BackaBuddy-rekening is steeds oop en R18 700 is reeds ingesamel.
Die goeie nuus is dat die radiostasie Hot 102.7 FM die R18 700 geëwenaar het en boonop ‘n verdere R20 000 geskenk het vir die ontwikkeling van die navorsingsentrum by HERD in Kapama.
Die paar het Dinsdag na Johannesburg teruggekeer. Hulle bedank Vader Mark Spratt van St George’s Anglikaanse Kerk in Witrivier en sy vrou, Rowena, wat hulle tydens hul reis terug na Gauteng bygestaan het.
