Sabie se kragkrisis duur voort terwyl water opraak
’n Nuwe plan om oorhoofse kabels te installeer kan Sabie se langdurige kragprobleme verlig.

Vir die 10de agtereenvolgende dag sit groot dele van Sabie sonder krag, terwyl inwoners nou met ’n verdere krisis opgeskeep sit nadat die dorp se water opgeraak het.
Volgens Anina Coetzee, ’n inwoner van Uitbreiding 3, het die krag in die vroeë oggendure van Woensdag, 26 Augustus, afgegaan nadat ’n hoofkragbreker op een van die hoogspanningslyne uitgebrand het. Tien dae later is die breker steeds nie vervang nie.
Volgens Dan van Eijk, ’n lid van die Sabie-sakekamer, is die kragkrisis verder vererger nadat diewe sowat 80 m kragkabel gesteel het.
Intussen is ’n volledige mini-substasie wat elektrisiteit aan die Waterval-plote verskaf, ook gesteel is.
Volgens Mavin Pillay, ’n DA-raadslid, behoort die mini-substasie teen môreoggend, 5 September, vervang te wees.
In die aangrensende Simile-woonbuurt is inwoners ook in rep en roer nadat groot dele van die nedersetting sonder krag gelaat is toe al die kragkabels, die drade binne-in die transformator asook die brekers daaruit gesteel is.
Die Thaba Chweu Plaaslike Munisipaliteit het van die kabels probeer vervang, maar volgens die munisipaliteit is die nuwe kabels kort daarna weer gesteel.
Die munisipaliteit het nou besluit om alle ondergrondse kabels met oorhoofse kabels te vervang.
’n Kontrakteur het gister reeds begin om nuwe pale te plant waaraan die kabels aangebring sal word.
’n Inwoner, wat anoniem wil bly, het met die kontrakteur gepraat. Volgens die kontrakteur sal die bogrondse kabelprojek eers teen komende Dinsdag voltooi wees.
“Ons is van die enkele gelukkige inwoners wat ’n kragopwekker kan bekostig om ons huis van krag te voorsien,” sê Coetzee.
Volgens haar het hulle die afgelope week na raming R5 000 aan brandstof bestee.
Roy Makwakwa, munisipale bestuurde, is tans in ’n noodvergadering om die krag- en waterprobleme aan te spreek.
Tenkers sal intussen beskikbaar gestel word om water aan inwoners te verskaf.
