Blitsige begin vir Laeveld se atletiekseisoen
Die NHS Blitz-atletiekbyeenkoms het die 2026/27-seisoen afgeskop met belowende vertonings van jong Laeveld-atlete.
Die eerste skote van die 2026/27-atletiekseisoen het Donderdagaand, 10 September, op Hoërskool Nelspruit se baan geklap, waar skole en individuele atlete van regoor die Laeveld tydens die NHS Blitz-atletiekbyeenkoms kragte gemeet het.
Die byeenkoms, wat laatmiddag afgeskop en tot in die aand voortgeduur het, was die seisoen se eerste vriendskaplike kragmeting.
Dit het jong atlete die geleentheid gebied om hul fiksheid te toets, kompetisie-ervaring op te doen en ’n eerste aanduiding te kry van waar hulle staan voordat die atletiekseisoen behoorlik in rat kom.
Atlete van o. 13 tot o. 19 het deelgeneem, met Hoërskool Nelspruit, Hoërskool Bergvlam, Lowveld High School en Rob Ferreira High School onder die skole wat verteenwoordig was. Individuele atlete van Penryn College, Uplands College en Komatipoort Akademie het ook aan die byeenkoms deelgeneem.
Vroeë spoed op die baan
Hoewel die Blitz-byeenkoms nie om groot kampioenskapstitels gegaan het nie, het sommige vertonings vroeg reeds gewys dat daar vanjaar heelwat talent op die Laeveld se atletiekbane gaan wees.
Die aand het met die 100 m-eindstryde onder die ligte tot ’n gepaste klimaks gekom, toe die vinnigste seuns en dogters van die byeenkoms die baan aangepak het.
Een van die aand se opvallendste vertonings het in die o. 15-seuns se 100 m gekom, waar Bernard Calitz die eindstryd in ’n uitstekende 11;47 sekondes gewen het. Nathi Mathebula was tweede in 11;62, met Morné van Wyk derde in 11;94. By die o. 17-seuns het Banele Sithole die 100 m in 11;19 sekondes gewen, gevolg deur Quincey Manareng (11;33) en T. Mkhabela (11;40). Andy Weng was vierde in 11;43, terwyl Washu Tshikovhela vyfde in 11;45 geëindig het.
Die o. 17-dogters het eweneens rede vir optimisme gegee. Sonja Tivane het die 100 m in 12;72 sekondes gewen, net voor Lana Theron in 12;79 en Amber Mavuso in 13;05. Onder die jonger atlete was daar ook reeds belowende spoed. Amiee Dippenaar het die o. 13-dogters se 100 m in 13;85 sekondes gewen, terwyl Gift Appie die o. 13-seuns se 100 m in 13;37 sekondes gewen het.
Hekkies lewer sterk vertonings
Die hekkies het van die interessantste vroeëseisoen-vertonings opgelewer. By die o. 15-seuns het Johnny Wasserman die 100 m-hekkies in ’n vinnige 13;23 sekondes gewen. Lesedi Metheba was tweede in 14;41. In die o. 17-seuns se 110 m-hekkies het Mbuyelo Rikhotso in 14;73 sekondes gewen, met Muponisi Hlungwane tweede in 15;73 en Alex Willemse derde.
Megan Lourens het die o. 17-dogters se 100 m-hekkies in 16;55 sekondes gewen. Die 300 m-hekkies het ook ’n goeie aanduiding van die atlete se vroeë fiksheid gebied. Trust Makhabela het die o. 17-seuns se wedloop in 38;69 sekondes gewen, terwyl Linmarie Kemp in die o. 17-dogters se afdeling eerste oor die wenstreep was in 49;00 sekondes.
Middelafstandtalent wys sy staal
Die aand was egter nie net oor spoed nie. In die o. 15-dogters se 800 m het Zoe van Vuuren ’n sterk 02:22;01 aangeteken om die wedloop te wen. By die o. 17-seuns het Princoly Mhangana ’n besonder indrukwekkende 01:53;52 oor 800 m gehardloop. Hy het ook die 400 m in 51;33 sekondes en die 1 500 m in 04:21;55 gewen – ’n aand wat sy veelsydigheid oor die middelafstande beklemtoon het.
In die o. 15-seuns se 1 500 m was Ihvan Pretorius eerste in 04:16;48, terwyl PJ Ntimane tweede in 04:19;50 geëindig het.
Talent ook in velditems
Die velditems het gewys dat die Laeveld se atletiekdiepte nie net op die baan lê nie. Amiee Dippenaar het die o. 13-dogters se hoogspring met ’n uitstekende 1,50 m gewen, terwyl Bernard Calitz die o. 15-seuns se hoogspring met 1,65 m gewen het. In die verspring het Dahntey Cupido 6,33 m in die o. 17-seuns behaal, terwyl Katlego Makgopa die o. 19-seuns met 6,49 m gewen het.
Een van die opvallendste veldprestasie van die aand was egter Miandri de Jager se indrukwekkende 75,50 m in die o. 15-dogters se spiesgooi.
’n Belowende begin
Vir afrigters en atlete was die groter waarde van die Blitz-byeenkoms egter waarskynlik nie die medaljes nie, maar die geleentheid om weer onder mededingende omstandighede op die baan te wees. Met die eerste wedlope agter die rug, is daar nou ’n basis waarvandaan atlete hul fiksheid, tegniek en tye kan verbeter.
En indien Donderdagaand se vertonings enigiets is om aan te gaan, kan die komende atletiekseisoen ’n interessante een vir die Laeveld wees.






