Meat World Matumi kraai koning as Mpumalanga se beste biltongmaker
Meat World Matumi se biltong kraai koning in Mpumalanga.

Saterdag moes die Top 10 in die Safari Biltongkompetisie, aangebied deur Crown National, die beoordelaars in die finaal beïndruk met hulle biltong.
Hoewel al die finaliste sterk meegeding het, kon slegs een met die gesogte eerste plek wegstap.
Die uitslae van die kompetisie was soos volg:
1. Meat World Matumi
2. Hazyview Gold Storage Butchery
3. Lebombo Slaghuis
4. Joubert en Seuns Padstal
5. Parkton Meats
6. Breet Braai
7. SPAR Sabie
8. Buy N Save Matsapha SUPERSPAR.
Twee finaliste het nie vir die beoordeling opgedaag nie.
Hoe het die beoordelingsproses gewerk?
Regverdigheid en onpartydigheid was volgens die organiseerders ’n kernbeginsel van die kompetisie.
Elkeen van die 50 deelnemers het ’n Safari-emmer met ’n unieke nommer ontvang waarin hul biltong voorberei is.
Die beoordelaars het elke inskrywing slegs op grond van dié nommer beoordeel, sonder om te weet wie die deelnemer of besigheid daaragter was.
Uit die oorspronklike 50 inskrywings is die Top 10 gekies.
Die finaliste het daarna nuwe nommers ontvang en hul biltong is vir ’n tweede keer anoniem beoordeel.
Die dubbelblinde nommerstelsel het verseker dat elke inskrywing objektief beoordeel is en dat die gehalte van die biltong, eerder as die naam, besigheid of identiteit van die deelnemer, die uitslag bepaal het.
Baie geluk aan al die deelnemers, en veral die Top 8-finaliste.
Safari-biltongkampioen – waar gehalte vanself spreek.





