Local news

Riverside Mall kry ná 26 jaar nuwe eienaars

Vukile Property Fund sal na verwagting in April 2027 beheer oor die sentrum oorneem.

Ná 26 jaar in bedryf onder die vaandel van Old Mutual, kry Riverside Mall binnekort nuwe eienaars.

Tydens die opening van die sentrum jare gelede was Riverside Mall ’n gewilde trekpleister wat daartoe gelei het dat die middestad leeggeloop het.

Oor die jare het die winkelsentrum verskeie veranderings ondergaan, waarvan die aanbouing van die vleuel waar Checkers tans geleë is, een van die grootstes was.

LEES OOK: Local artists showcase work at new Riverside Mall gallery

In 2012 het Old Mutual ’n bykomende perseel bekom waarop die destydse Mafunyane Waterpark gebou is.

Dié ontspanningspark het egter in Maart 2025 as gevolg van finansiële druk gesluit, maar het in Desember 2025 heropen onder die naam Central Park Waterpark. Riverside Mall is vir kommentaar genader, maar het die publikasie na Old Mutual verwys.

LEES OOK: Riverside Mall opens new stores

Jurie Strydom, Old Mutual se groepbestuurshoof, het bekendgemaak dat die lewensversekeraar sy totale SuidAfrikaanse kleinhandeleiendomsportefeulje aan Vukile Property Fund gaan verkoop.

Dié portefeulje van 18 inkopiesentrums regoor die land het ’n gesamentlike bruto batewaarde van R16,08 miljard.

Ten spyte van die hoë batewaarde, is die verwagting dat die 18 sentrums vir na raming R9,913 miljard verkoop sal word, aangesien Old Mutual Eiendomme ’n skuldlas en ander verpligtinge van R6 miljard het.

Die oorname van Riverside Mall vorm deel van Vukile Property Fund se mees onlangse grootskaalse uitbreiding in die Suid-Afrikaanse kleinhandelsektor.

Vukile, wat reeds ’n beduidende portefeulje van winkelsentrums in Suid-Afrika asook in Europa (deur sy filiaal Castellana Properties) besit, word deur dié ooreenkoms met Old Mutual die grootste kleinhandeleiendomsbelegger in die land volgens totale vloeroppervlakte.

Om die R9,913 miljard-kontanttransaksie te finansier, het Vukile pas R7,3 miljard deur ’n oorskryfde kapitaalinsameling onder beleggers ingesamel – ’n aanduiding van sterk markvertroue in die langtermynwaarde van dié sentrums.

Volgens Old Mutual het Riverside Mall ’n boekwaarde van R701 miljoen en ’n bruto verhuurbare vloeroppervlakte van 50 392 m² (wat 3 000 m² van die waterpark insluit).

Die sentrum se netto bedryfsinkomste (NOI) vir die eerste ses maande van die jaar het R33 miljoen beloop. Sedert verskeie nuwe sentrums soos Crossings, i’langa Mall en The Square opgerig is, het verskeie bekende ankerondernemings soos Pick n Pay en Edgars, asook restaurante soos Mugg & Bean, Wimpy, John Dory’s en Mediterranean Seafood, egter uitgetrek. Vukile Property Fund sal na verwagting in April 2027 beheer oor die sentrum oorneem.

Die nuus van die verkoop het verskeie huurders onkant gevang. Van die huurders wat Laevelder vir kommentaar genader het, was nie eens bewus van die transaksie nie. Tog is daar opgewondenheid oor die moontlikheid van nuwe en groter ontwikkelings by die sentrum.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button