Local news

Drie afgetrede polisiebeamptes verbind met Vlakplaas-moord in 1991 verskyn in Nelspruit-hof

Drie voormalige senior polisiebeamptes word verbind met die moord op ’n Mosambiekse informant in 1991.

Ná 35 jaar sal drie voormalige senior polisiebeamptes, insluitend ’n generaal-majoor, ’n brigadier en ’n kolonel, na verwagting vandag, 24 November, in die Nelspruit-landdroshof verskyn in verband met die beweerde moord op die Mosambiekse informant, Adriano Louis Bambo.

LEES OOK: Mbombela-padvark ry hond voor jong kinders dood

Bambo, ook bekend as Nhassopa of “Strongman”, is in Maart 1991 in Matsulu naby Nelspruit doodgeskiet nadat hy amptelik uit polisieselle vrygelaat is terwyl hy gewag het op verhoor vir gewapende roof.

Volgens lt.kol. Magonseni Nkosi, woordvoerder van die Valke in Mbombela, is die lasbriewe vir arrestasie gemagtig ná ’n intensiewe ondersoek deur die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) se WKR-eenheid na ongestrafte apartheidsera-misdade.

Die beskuldigdes, almal voormalige senior lede van die SAPD se Moord- en Roofeenheid, staan tereg op aanklagte wat met die moord verband hou.

LEES OOK: Dog lost in Mbombela vlei: Community chaos complicates Luna’s rescue

“Dit volg op ’n omvattende ondersoek wat daarop gemik was om die waarheid oor die voorval aan die lig te bring en verantwoording te verseker, ongeag die tydsverloop,” verduidelik Nkosi.

Tydens amnestieverhore van die Waarheids- en Versoeningskommissie (WKR) in 2000 het voormalige Vlakplaas-bevelvoerder Eugene de Kock getuig dat ’n vals wapenput (weapon cache) met Oosblok-landmyne en ’n Makarov-pistool vooraf beplan en opgestel is om die uitwissing van Bambo as ’n ontsnappingspoging of selfverdediging te verbloem.

Na die hofverrigtinge is amnestie aan drie Vlakplaas-operateurs, naamlike De Kock, Dawid “Duiwel” Brits en Daniel Snyman toegestaan.

Laevelder sal lesers op hoogte bring na die verdagtes se hofverskyning.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Gia Radnai

Gia is a senior journalist at Lowvelder and joined the editorial team in 2025. She started her career as a business journalist in 2022 and decided to pursue her dream of becoming a news reporter instead. She believes in giving people a voice and is known for her community and hard news stories.
Back to top button