VIDEO | Lydenburg Rusoord ondersoek klagtes oor bejaarde inwoner se behandeling
’n Onafhanklike ondersoek is van stapel gestuur nadat kommer oor ’n bejaarde inwoner se versorging by Lydenburg Rusoord ontstaan het.
Twee personeellede van Lydenburg Rusoord is na bewering tydelik geskors nadat kommer ontstaan het oor die behandeling van ’n bejaarde inwoner by die tehuis.
Die bestuur het die stap in ’n openbare verklaring bevestig en erken dat die berigte en videomateriaal oor die behandeling van een van sy inwoners diep kommerwekkend is.
Volgens die verklaring is alle personeellede wat by die klagte betrokke is, intussen van die inwoner se versorging onttrek.
Kyk na die video HIER
Onafhanklike ondersoek van stapel gestuur
Rusoord sê die bewerings is op 9 November by die nasionale en provinsiale Departement van Maatskaplike Ontwikkeling aangemeld. Die tehuis werk ten volle met die departement se ondersoek saam.
Die tehuis het ook ’n onafhanklike ondersoek deur CMR Mpumalanga laat doen. ’n Geregistreerde maatskaplike werker is aangestel om die klagtes, die versorging wat die inwoner ontvang het en die tehuis se kommunikasie met haar familie te ondersoek.
Volgens die verklaring is die tehuis se rekords, kamerabeelde, perseel en personeel vir die ondersoek beskikbaar gestel.

Moontlike tekortkominge sal aangespreek word
Rusoord sê enige tekortkominge wat deur die ondersoek geïdentifiseer word, sal aangespreek word. Die onafhanklike aanbevelings sal ook gebruik word om moontlike veranderinge aan versorgingspraktyke, toesig en kommunikasie aan te bring.
“Mishandeling, vernedering en rassistiese taal het geen plek by Rusoord nie,” lui die verklaring.
Die verklaring is deur Hans Kelly, voorsitter van Lydenburg Rusoord, uitgereik.
Die fasiliteitsbestuurder, Ben Liebenberg, is as kontakpersoon vir inwoners, families en ander belanghebbendes beskikbaar gestel.
Ondersoek duur voort
Die ondersoek duur voort, en geen bevinding oor die bewerings is tot dusver in die openbare verklaring bekend gemaak nie.