IN FOTO’S: Bergie Dwergies hou Olimpiese Pretdag vol lag en speel
Al was daar geen goue medaljes op die spel nie, het die Bergie Dwergies nog steeds hulle alles gegee.
Slegs ‘n week ná die Citybug Interlaer se groot sukses, het Laerskool Bergland se jongste sterre op Saterdag , 21 Februarie, hul eie Olimpiese podium-oomblikke beleef tydens die jaarlikse Bergie Dwergie Pretdag.
Met die Olimpiese Spele as inspirasie, was dit van begin tot einde heeltyd speeltyd vir die jongklomp. Daar was wel so ’n paar ernstige atlete te bespeur, veral by die ‘poolnoodle’-hoogspring en trampoline-verspring.
Ouers het saam met hul kinders die oggend geniet en met so ’n paar ekstra lagplooie uit die stryd getree.
Ná al die gespelery, het die Bergies hul Crocs in ‘speed mode’ gesit vir die immer gewilde naelloop resies.
Dié resies is natuurlik so gewild, want mamma en pappa kry ook ‘n beurt om hul gloriedae te herleef. Jaar-na-jaar sorg die Bergie Dwergie Pretdag vir pret, plesier en hope energie!









