Editor's noteOpinion

Wie kan nog die Daan Retief-kinderklub onthou?

Wat kan jy doen om seker te maak jou kind is geletterd?

Vir ‘n tjokkertjie wat op Malelane grootgeword het, was my maandelikse pakkie wat ek van dié klub ontvang het, ‘n hoogtepunt. My ma en pa het my heel maand in toom gehou met die gewraakte waarskuwing dat ek nie my pakkie gaan kry as ek nie soet is nie. En as ek daardie dik pakkie boeke oopmaak, was ek weer dolgelukkig. Afgesien daarvan dat dinge soos wiskunde en wetenskap speel-speel geleer is, het dit ‘n liefde vir lees by my aangewakker. Tannie Thelma was ons bibliotekaresse en met die bib net ‘n blok ver van die huis af, was ek byna daagliks ‘n besoeker. Ek klink dalk soos ‘n regte nerd, maar vandag is ek superbly dat ek daardie liefde van kleins af ontwikkel het.

Dié week is boekeweek en die skokkende statsitiek is bekend gemaak dat sleg 14% van Suid-Afrikaners boeke lees en dat net een persent vir een sal betaal. Daarmee saam is daar ook net vyf persent ouers wat vir hul kinders boek lees. Die leesstigting van Suid-Afrika het gesê die lae gehalte van onderwys kan grotendeels aan die kwynende leeskultuur toegeskryf word.

En daarmee stem ek heelhartig saam. Om te lees, verbreed nie net kennis nie, maar ook die vermoë om te fantaseer en verbeelding te gebruik, insig te verkry, geheue te vergroot, en begrip te kry om inligting vinnig te verwerk. Dis ‘n feit dat kinders wat sukkel om te lees, sukkel om te leer. Skool kan dalk ‘n kind leer lees, maar die liefde daarvoor word by die huis gekweek.

Baba- en kleuterrympies is die begin van die proses om daardie liefde te kweek en oulike kinderboeke wat vandag in oorvloed beskikbaar is, sal sorg dat jou kind van jongs af daarvan hou om te lees.

In my kinderdae was daar natuurlik nie goed soos selfone, tablette en rekenaars nie en moes ons nog die biblioteek besoek om take te doen.

In ons huis het ek die twee kinders Sondae gedwing om die eerste vyf bladsye van die koerant te lees en het ‘n vinnige vasvra daardie aand gehou. Soms het dit met stampe en stote gepaardgegaan, maar ten minste is een van hulle baie lief vir lees. As ons met vakansie gegaan het, was daar gereeld ‘n pak Trivial Pursuit-kaartjies in die kar en dan het ons so in die ry gespeel. Op dié manier het ons gesorg dat die algemene kennis ook uitgebrei word.

Doen jou kind ‘n guns en lees vir hom of haar. Die gehalte van ons land se onderrigstelsel word bewys met die feit dat ons 133ste uit 142 lande is. Wat kan jy doen om dit te help verander?

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button