Opinion

Kia staan al 2 maande

"Die voertuig het egter een oggend ongeveer agt weke gelede sonder enige waarskuwing bloot net nie aangeskakel nie."

Niek Geldenhuys van Nelspruit skryf:

Ek is die eienaar van ‘n 2011 Kia Sorento wat ek nuut by Nelspruit Multi-Franchise gekoop het. Die voertuig het egter een oggend ongeveer agt weke gelede sonder enige waarskuwing bloot net nie aangeskakel nie. Nelspruit Multi-Franchise het gereël dat dit na hul werkswinkel ingesleep word.

Na ‘n week het dit duidelik geword dat hulle nie met sekerheid kon vasstel wat fout is nie. Na ongeveer twee weke het Kia Motors Suid-Afrika (KMSA) goedkeuring gegee dat die inspuitpomp vervang word. Die voertuig kon toe aanskakel en ek is gelukkig huis toe, net om die volgende oggend met die selfde probleem te sit.

Weer is die voertuig ingesleep. Daar is besluit om ‘n tweede inspuitpomp in te sit. Toe dit nie werk nie, het KMSA versoek dat beide pompe saam met ‘n brandstofmonster na hul hoofkantoor gestuur word. Hulle het toe ‘n tegniese deskundige Nelspruit toe gestuur, maar het ook onverrigtersake teruggekeer. Ek is hierdie week deur mnr. Charl Stevens, die werkswinkelbestuurder, meegedeel dat hulle een van die inspuitpompe wat reeds in die motor was, weer terug moes sit.

Hulle sou dan ‘n apparaat van hoofkantoor bestel, ‘n toets doen en die verslae terugstuur vir ontleding. Hierdie proses gaan ten minste nog ‘n week in beslag neem, aldus Stevens.

Die agentskap het hul uiterste bes gedoen om my te help, maar is aanhoudend deur KMSA se traagheid gekortwiek omdat al hoofkantoor se prosesse baie stadig is. Eersgenoemde het ook hul bes gedoen om KMSA so ver te kry om ‘n voertuig aan my beskibaar te stel, maar hulle het die versoek geïgnoreer. Tans kom ek met ‘n klein voertuig wat Nelspruit Multi-Franchise aan my beskibaar gestel het, oor die weg.

Daar word slegs in opdrag van KMSA daaraan gewerk, aangesien die agentskap nie weet wat om verder te doen nie. Hulle bespiegel steeds oor wat presies met die Sorento verkeerd is. Intussen moet ek die ongerief sonder my voertuig verduur. Dit is uiters frustrerend om so behandel te word. Ek kan nie insien hoe ‘n voertuigvervaardiger die publiek so kan misbruik nie.

Mnr. Anthony Shiell, nasionale naverkopebestuurder van KMSA, antwoord:

By uitstek wil ons graag verskoning vra vir die ongerief wat mnr. Geldenhuys ondervind het, en ons wens om verder verskoning te vra vir die vertragings in die herstel van sy voertuig.

KMSA het ‘n versoek vir tegniese ondersteuning van Kia Nelspruit op 27 Augustus ontvang. Die tegniese deskundige het op 29 Augustus daarheen gereis en staalvylsels en ‘n jellie-agtige middel in die voertuig se petroltenk gevind.

Na aanleiding van die kilometerlesing van 44 995km, het dié besoedeling waarskynlik plaasgevind toe die voertuig met petrol opgevul is net voor die voorval. Om die saak op te los, is ‘n petrolpomp na die handelaar in Nelspruit gestuur. Sodra dit ingesit is, sal ons deskundige weer na Nelspruit reis om die handerlaar te help om Geldenhuys se voertuig te herstel.

Ons besef dat hy verontrief is, en daarom sal ons verseker dat dit in die kortste moontlike tyd herstel word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button