Just wanna say – Week 39
Elke ene van ons het, ten spyte van ons kragte, ons Achilleshiel - daardie plek waar ons swakheid lê.

Dit was met ‘n skok wat ek verlede week besef het hierdie jaar is so te sê om, maar meer as dit, ek het nog nie eens een van die projekte wat ek wou aanpak, begin nie.
Die dae het doodeenvoudig so ineengevloei dat dit nou soos ‘n groot olieblerts op die skoon skilderdoek van my wonderlike voornemens lê. “Time management,” sê dié wat slim is. Ja, daar steek baie waarheid in, want ‘n mens kan soms jou eie wysers afkap wanneer jy nie behoorlik beplan nie.
Nogtans, om dit behoorlik te kan toepas, moet jy tog sekerlik weet waar jy jou gaan of moet bevind in die nabye toekoms.Met my werkery is dit nie altyd maklik nie.
Oor my onvermoë om tyd na wense te bestuur, het ek nou die aand lank wakker gelê.
Nie werklik uit keuse nie, maar daai wakker lê wat mens hier van 43 af bekruip. Nou so lê en tob ek oor die ding en kom tot die slotsom dat om my tyd in vakkies in te squeeze nóóit vir my gaan werk nie, bloot omdat dit nie ek is nie, want ek is Confucius personified. Hannelie, ons grafiese kunstenaar moes al dikwels by my hoor: “Los my kantoor wat soos ‘n nes lyk, there is method in my madness, order in my confusion.”
So is dit dan ook met baie dinge in die lewe.
Mens is geneig om te krap aan goeters wat jy eintlik maar moes los, soos jou persoonlikheid. Krap gerus daaraan as dit ander mense skaad of wanneer dit jou in ‘n put aftrek, maar wanneer dit kaart en transport van jou blueprint is, los dit uit. Vir wat moet alles dan tog altyd volgens die norm se wette verloop?
Elke ene van ons het, ten spyte van ons kragte, ons Achilleshiel – daardie plek waar ons swakheid lê.
Solank dit nie ‘n dodelike swakheid is nie en jy kan waak daarteen om dit totaal te laat hand uitruk, omhels en aanvaar dit. Meer dikwels as nie, sal jy vind dat jou grootste swakheid die vermoë het om jou grootste pluspunt word.
Gaan tob oor jou swakheid in die week wat voorlê en kyk hoe jy dit kan benut om ‘n verskil in jou wêreld te maak.
Hou op karring aan jouself, want daar is ‘n doel hoekom jy is soos jy is en die uniekheid daarvan behoort jou te laat jubel! Groetnis.
