Opinion

Just Wanna Say Week 51

Al neem jy net een besluit hierdie Kersseisoen, laat dit dan die besluit wees om nie om te kyk nie.

Soos vir eeue reeds het ons weereens aan die einde van nog ‘n dolle jaar gekom. In hierdie jaar het ek self ‘n nig en neef, broer en suster, aan die dood afgestaan. Wat dit moeiliker gemaak het is dat beide hul eie lewens geneem het en my neef boonop ‘n pastoor, ‘n man van God en herder van sy kudde was.

Net bietjie meer as ‘n maand terug moes ons familie ook hoor my geliefde moeder is sterwend. Ek en my sus het inderhaas Kaap toe gevlieg en God sy dank word ma nou nog vir ons gespaar en sal ek die tydjies wat ek haar sien hierdie Desember vir ewig in my hart koester.

Hoe dit ook al sy, ‘n mens kan nie stagneer nie, jy moet immers aan die beweeg bly en waak daarteen om vasgevang te word in dinge wat verby is, hoe dit ookal jou hart breek.

Baie Barbertonners het die jaar elkeen deur seer van hul eie gegaan en gaan nog steeds daardeur. Ek het nie veel om te sê vandag nie, maar dit wat my op die hart gelê is moet gesê word.

Een van die grootste drawbacks van die menslike natuur is om homself te wil vernietig, want die mag van die gewoonte kry mens met tye in so ‘n wurggreep dat dit begin lekker raak in daardie versmoring.

Mense, hierdie lewe is hier om geleef te word. Jy is dalk vandag onseker oor besluite wat jy moet neem, en wanneer jy wel so ver kom, bly jy terugkyk. Moet dit nie doen nie. Al breek dit jou hart. Los daardie koffers agter jou in die stofpad.

Al neem jy net een besluit hierdie Kersseisoen, laat dit dan die besluit wees om nie om te kyk nie. Almal weet wat met Lot van ouds se vrou gebeur het en of jy glo dit was simbolies en of jy glo dat dit werklik gebeur het, die boodskap is vandag nog van toepassing – wanneer jy omkyk kom jy tot stilstand.

Beweeg mense, beweeg – en vee jou af aan die res wat dink hulle het die reg om iets van jou lewe te sê. Laat hulle dan nou maar by jou ou vrot koffer plak en spekuleer oor wat daarbinne aangegaan het as hulle dan nou niks beters het om te doen nie. Dit is gewoonlik maar net om hul eie koffers te verbloem wat daar in joune gekrap word.

Gebruik jy daardie koffer as stepping stone om nog hoër uit te styg!
Mag elkeen van julle, selfs dié wat ander se koffers so interessant vind, ‘n waarlik geseënde Kersfees geniet!

-Annie

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button