Kragonderbrekings 2013
'n Inwoner hou rekord van die groot getal kragonderbrekings die afgelope jaar in Nelspruit.

Ben Schultz skryf:
Die weerlig en gure weer is onbeheerbaar en is buite ons beheer, dit is ‘n feit. Dit lyk of Nelspruit tog oormatig aan kragonderbrekings ly en alhoewel dit soms lyk of die getal onderbrekings onafwendbaar is, trek ek dit in betwyfeling, want in ander munisipaliteite waar ek ook gewoon het, was dit so te sê ongehoord van, bv. Port Elizabeth, net twee onderbrekings in 18-jaar.
Nelspruit se krag was af vir 77.52 ure in 2012 en sovêr in 2013, vir 33.25 ure, en die jaar is nog nie verby nie. Ek het deur die jaar ook nie presies al die onderbreking genoteer nie, want dit kom my voor dat die algemene publiek en die munisipaliteit hulle nie regtig steur aan diè statistiek nie.
Gister se 8-uur en 25-minute onderbreking, het die stertjie bygehad dat die krag sowat om 19:00 weer “aangekom” het, maar iets was nie pluis nie! Sommige gloeilampies het swak lig gegee en sommige het glad nie aangekom nie en my bure was in dieselfde bootjie. Al ons ander masjiene en dakwaaiers het ook teen halfspoed gewerk. Ek raai dat ons slegs 110-volt ontvang het en nie die standaard 240-volt nie. Ek het ampers dadelik alles afgesit wat ek kon, want halfkrag is bekend daarvoor dat dit TV’s, yskas en vrieskaskompressors en meer, sleg beinvloed en dit kan wel lei tot die vroeë ingee van die apparate. Sowat eers ‘n uur later of wat, het iemand hul fout agtergekom en die kragtoevoer weer heeltemal afgeskakel.
Ons het slegs net twee van ons 1994 kerse oor en voordat hulle uitgebrand was, is 240-volt weer aangeskakel.
Die redes vir al die onderbrekings en “halwe” werk is daar seker baie, maar as jul apparate vroegtydig oppak, kan ons seker raai wie om moontlik te blameer. ‘n Gasbottel en gas kookbykomstighede, sal in Nelspruit ‘n uitstekende Kersgeskenk maak.
