Opinion

Die trauma van ‘n gewapende aanval

Jy gaan nooit vergeet nie. Jy gaan nooit heeltemal hieroor kom nie. Maar dit word beter

Die hel wat Christine Otto moes deurmaak toe sy Donderdag op haar plot oorval en ure lank gemartel is, is amper ondenkbaar.

Ek weet min of meer wat sy nou moet deurmaak. Sondag sal dit 13 jaar gelede wees dat ek self deur ‘n onbekende man aangerand en met ‘n mes aangehou is omdat hy my wou verkrag.

My ontmoeting met my aanvaller het vyf minute geduur, Christine s’n sowat vier uur. Tyd staan op daardie oomblik stil. Alles en nog wat maal deur jou kop. Jy oorweeg al jou opsies. Hy beveel jou om stil te bly, maar jou instink neem oor en jy soek desperaat na ‘n wegkomkans en wonder wat jy kan doen om jouself te beskerm. Jy besef jy het hier met ‘n monster te doen. Een verkeerde tree en jy’s dood.

Ek het nie self met Christine gepraat nie, maar haar dogter het genoem dat sy die een aanvaller se oë kan onthou.
Daardie haat. Ek sal dit ook nooit vergeet nie. Sy reuk ook nie. My behoud was dat ek myself weens die skrik natgemaak het. Dit het my aanvaller afgesit en hy het genadiglik opgestaan en geloop.

Die skok kom nie dadelik nie. Jy is woedend dat jou regte só vertrap is. Jy kan nie glo wat so pas met jou gebeur het nie en jy vertel vir almal wat wil hoor. Die volgende oggend as jy wakker word, is dit die eerste gedagte wat by jou opkom. Jou lyf is seer waar jy geskop en geslaan is en jy is geweldig styf van al die adrenalien wat die vorige dag deur jou gepomp het.

Dan besef jy dit was nie net ‘n nare droom nie. Dit hét werklik met jou gebeur. Dan slaan jy toe. Jy wil nie praat nie.

Ek was aanvanklik kwaad vir my sielkundige wat elke keer aan die begin van ‘n sessie vir my gevra het wat daardie dag gebeur het. Sy weet mos! Vandag besef ek dit is alles deel van die herstelproses. Tot vandag toe waar ek hier sit en skryf, is dit terapie.

Christine se dogter het genoem dat haar ma die ystersaag waarmee sy haar voete kon bevry, wil raam omdat sy glo dit het haar lewe gered. Haar dogter vind dit vreemd, bisar selfs. Hoekom sou sy haarself elke dag wou herinner aan wat met haar gebeur het?

Ek wens ek het ‘n saag gehad om te raam. Ek het daardie dag na my skoolsak geloer en besef ek het my skêr by die huis gelos omdat dit eksamentyd was. Ek was magteloos.

Christine is ‘n ongelooflike dapper vrou, maar die pad wat vir haar voorlê is nie ‘n maklike een nie. Tannie, my persoonlike boodskap aan jou is: “Jy gaan nooit vergeet nie. Jy gaan nooit heeltemal hieroor kom nie. Maar dit word beter. Jy sal later, met tyd, nie meer skrik as iemand verby jou loop en ‘n skielike beweging uitvoer nie. Jy het oorleef. Dit maak jou nie ‘n slagoffer nie, maar ‘n oorwinnaar.

“Moenie dat mense vir jou voorskryf hoe jy deur hierdie trauma moet werk nie. As jy jou ystersaag wil raam, doen dit. As jy dit later van die muur wil afhaal en wegbêre, doen dit ook. Moet net nie gaan lê nie. Dit voel nou of daardie mans jou vryheid vir altyd gesteel het, maar, met tyd en genade van Bo, sal jy dit geleidelik terugkry.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button