ʼn Brief van óns vakansie
Iewers in my siel skop verlange nes. Kom lê so mooitjies in die holte van my bors. Hier iewers tussen niks en, dalk, iets. Nou wil ek by die huis uitkom.

Die dinge is gereël. Die bussie gediens. Die tasse gepak. Die waentjie gehaak en gelaai. Kinders vasgegord en vol beloftes om hulself te gedra op die lang pad fort. Weg van alles en almal wat bekend is. Om te gaan asem skep en rus.
So ry ons die Laeveld uit. Kyk nie links of regs nie. Die landskap is mos bekend en ons is gefokus op die wonderlike bestemming. “Weskus, hier kom ons!”
Schoemanskloof. Wat ’n plesier. Witbank. Die roet-rook hang dik. Johannesburg. Dankie tog ons hou verby. By Ventersdorp begin die koppe draai om die nuwe omgewing te bekyk. Coligny, Sannieshof, Delareyville. Nog nooit van gehoor nie. Vryburg. Die droë vlaktes sluk ons in. Kuruman. Kathu. Olifantshoek. Miershoopholte. Die Oranjeriviervallei: ʼn belofte van ʼn oase in die dorheid. Upington: vuurwarm-droog maar ’n vreemde tipe mooi. Keimoes. Kakamas. By Augrabies los ons die Oranje agter en swenk in Pofadder se rigting. Nou ry ons deur Boesmanland. Kokerboom-wêreld. Springbok. Afgesonderd en half vergete tussen die berge. Namakwaland transformeer as die blomme geil staan na die winter, maar in Desember is dit bar en droog. Eienaardige plek… Kamieskroon. Garies. Die name rol lekker oor die tong. “Bitterfontein” en “Nuwerus” klink soos plekke uit die Ou Testament. Vredendal is wynwêreld en ’n ent verderaan nestel Clanwilliam en Citrusdal aan die voet van die Sederberge. By Piketberg draai ons regs na Velddrif. Uiteindelik: Vredenburg en daarna Jacobsbaai. 2 200 km verder.
Die einde van ons reis. Of te wel: die tydelike einde. Ons bly mos maar beweeg.
Die Weskus. Wat ’n pragtige, vreemde streek. Dor en kaal. Bossiewêreld. Bome is skaars. So byna oorweldig deur die wye vryheid.
Die vakansie vlieg verby en met lang gesigte en swaar harte laai ons die tassies. Pak die lang tog huiswaarts aan. In die Pakhuispas besoek ons Leipoldt se eensame graf – weggesteek in die Sederberge. Hy is in die rooi sand onder ’n berghang begrawe. Iewers in my siel skop verlange nes. Kom lê so mooitjies in die holte van my bors. Hier iewers tussen niks en, dalk, iets. Nou wil ek by die huis kom.
Maar eers moet ons deur die Noord-Kaap beur. Calvinia. Williston. Carnavon. 40°C is g’n grap nie. Op Strydenburg veg ons teen moedverloor en op Hopetown verdwyn die laaste hoop in die dansende teer op die horison. Kimberley. Christiana. Wolmaransstad. Klerksdorp. By Potchefstroom begin dinge darem meer bekend lyk. Terug in Transvaal.
As ons na die vakansie in die droogland die groen oorvloed binnery, hang ons monde oop. Hoe dan dat ons in die chaos van die afgelope jaar so gefokus het op die wegkom dat ons blind geraak het vir die geil-groen rykdom om ons? Vir die wonderlike seën van reën en van ’n subtropiese klimaat.
Witrivier bly maar altyd dieselfde: Baie reën in die somer, sjampanje-dae in Februarie en Maart, koel af in die nag na die warm dag. Ons word oggend na oggend wakker met voëltjie-fluit. Die bloedrooi vlug van die Bloukuifloerie. Nie te koud in die winter nie. Min wind. Hier op die platteland waar my kinders sommer net kinders kan wees. Sonder stadsdrukte. Maar tog nie afgesonderd en alleen nie.
Wat ʼn voorreg om ’n huis te hê.
