BlogsLife is beautiful - with LiezelOpinion

Boek-opinie: DUBBELSPEL deur Wilna Adriaanse

Die einde van Dubbelspel het met 'n skok gekom. Ek wóú vir die eerste maal in 'n lang ruk nie ophou lees nie. Ek wóú hê die boek moet aangaan en aangaan. Wilna Adriaanse sal moet opskud met die opvolgboek want ek sien met kinderlike verwagting uit na Eindspel.

(4.2/5 op Goodreads. Sien https://www.goodreads.com/book/show/22438875-dubbelspel?from_search=true )

Die einde van Dubbelspel het met ‘n skok gekom. Ek wóú vir die eerste maal in ‘n lang ruk nie ophou lees nie. Ek wóú hê die boek moet aangaan en aangaan. Wilna Adriaanse sal moet opskud met die opvolgboek want ek sien met kinderlike verwagting uit na Eindspel.

Ellie McKenna, ‘n rooikop Ierse Suid-Afrikaner, is ‘n tragiese figuur. Haar pa is doodgeskiet tydens ‘n SAPS-padblokkade. Haar ma drink meer as ooit. En ware liefde bly haar maar ontwyk. Die drama, korrupsie en aanhoudende trauma en tragedie wat noodwendig met haar beroep gepaardgaan, help ook nie eintlik nie – Ellie het, tot haar ma se verontwaardiging, in haar pa se voetspore gevolg en by die SAPS aangesluit.

Sonder die nodige intensiewe opleiding en sonder dat Ellie dit noodwendig beplan het, raak sy as geheime agent in die donker wêreld van ondergrondse misdaad betrokke. Geldwassery, omkopery, smokkelary, polisie-korrupsie en geweldige hoeveelhede geld vorm deel van hierdie geheimsinnige, sinistere onderwêreld. ‘n Menslike lewe beteken niks nie en bendes ding genadeloos mee om die top-posisie. Daar is net één taal wat almal verstaan: Geld.

Dubbelspel” is ‘n gepaste titel. Bykans al die karakters in die boek speel ‘n dubbelspel en lei in verskillende grade ‘n dubbele lewe. Elkeen kies waar, wanneer en tot watter mate hy of sy die spel bekend wil maak – indien enigsins. Die reëls verander deurentyd en die leser moet kophou om die slim, dikwels versteekte nuanses en storielyne te volg. Die storie lewer keer op keer aangename én onaangename verrassings op en laat die leser vinnig onder die indruk kom dat niémand en niks te vertrou is nie.

Wilna Adriaanse is eintlik bekend vir boeke met ‘n romantiese storielyn. In Dubbelspel spring sy na ʼn spanningsverhaal en bewys haarself as ‘n uitmuntende skrywer wat, ek dink, enige genre met sukses sal kan aanpak. Tog het Dubbelspel ook ʼn opwindend-romantiese lyn en ek kan nie wag om te sien waarheen hierdie lyn in Eindspel beweeg nie. In ‘n onderhoud sê Wilna: “Ek het nie die sprong beplan nie en was self ietwat verbaas. Maar na 14 jaar van stories maak, vind ek dat stories universele eienskappe het. Selfs die romantiese genre het ook ’n spanningselement. En spanningsverhale het dikwels ook ‘n romantiese draad. Die klem verskil dalk net. Op die ou end was die sprong toe nie so groot soos ‘n mens sou verwag nie.”

Afrikaners hoef nie meer nét Amerikaanse, Engelse en Skandinawiese spanningsverhale te lees nie. Daar is menige spanningsverhaal wat in Suid-Afrika afspeel en oorspronklik in Afrikaans geskryf is. Ek geniet hierdie boeke omdat die omgewing en agtergrond dikwels bekend is. Ek ken die plekke waar die tonele afspeel. Verder is die taalgebruik en woordkeuse ook bekend. Dalk omdat dit oorspronklik in mý taal geskryf is en nie in Afrikaans vertaal is nie. Wilna Adriaanse het dit reggekry om die boek só te skryf dat ek in ‘n sekere mate met die gesprekke en mense kan assosieer. Die karakters tree op en praat soos wat ek verwag het hulle moet.

Ek lees verskillende genres, maar spanningsverhale tel onder my gunstelinge. Van die menige Afrikaanse spanningsverhale wat deesdae op die rakke beskikbaar is, tel Dubbelspel nou onder my witbroodjies.

Dit is definitief oor en oor die lees werd!

 

Onderhoud met Wilna Adriaanse: https://www.sarie.com/lewe-liefdes/boeke/wilna-adriaanse-oor-dubbelspel-se-ellie-mckenna/

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button