BlogsLife is beautiful - with LiezelOpinion

Kommentaar op ‘n blogger se blog na aanleiding van my blog

Ek het Vrydag, kort voor naweektyd, 'n stuk getiteld "Netelige vrae aan Afrikaners" op my Laevelder-blog geskryf. Colyn Serfontein het my op sy blog geantwoord. Hierdie is mý antwoord aan Colyn. Die doel was immers gesprek...

Ek het Vrydag, kort voor naweektyd, ‘n stuk getiteld “Netelige vrae aan Afrikaners” op my Laevelder-blog geskryf.

Colyn Serfontein het my op sy blog geantwoord.

Hier is mý kommentaar op Colyn se antwoord:

Colyn, ek moet jou bedank vir jou reaksie op my blog. Jy is reg. Ek wou die vrae vra om debat uit te lok. Maar jy is verkeerd as jy dink dit is ’n “bedekte klap na die Afrikaner”. Die rede waarom ek hierdie vrae vra is die feit dat nie net ek nie maar baie ander Afrikaanssprekende blankes, veral die jonger geslag, werklik met hierdie vrae worstel. En wel om verskeie redes. Ek lei dit af uit menige opinie en kommentaar wat ek die laaste ruk op sosiale media lees. Boonop sal dit sekerlik malligheid wees om ‘n klap na myself en my familie te gooi.

Verder skryf jy in die aanhef tot jou blog: “Almal van ons kom van tyd tot tyd by ’n plekkie in die lewe waar jy wonder hoekom mense doen wat hulle doen of hoekom dinge gebeur wat gebeur. Meeste van die tyd is ons egter te versigtig om reguit vir antwoorde te vra en dan sloeg ons maar aan… wel ek het besluit ek gaan maar liewers die reguit vrae vra en dalk ’n paar draaie in die pad mis.” Ek neem aan dat hierdie wyse woorde nie net vir jou geld nie, maar ook vir ander, soos ek, wat in hierdie onsekere, deurmekaar tyd met allerlei netelige vrae worstel.

En die vrae is wél netelig. Dit veroorsaak bekgevegte wat drup van sarkasme en haat. Die antwoorde illustreer verdeling en misnoeë. Woede is aan die orde van die dag.

Verder blog ek nie om ’n gevolg op te bou nie. Ek blog omdat ek lief is vir Afrikaans en lief is vir skryf. Die hoeveelheid mense wat my blog volg of lees skeel my min. Skryf is my manier om uiting te gee aan my onsekerhede en woede. Maar dit is ook so dat ek meermale skryf oor “beauty” en oor dinge waarvan ek hou. Ek skryf doodeenvoudig makliker as wat ek praat. As jy na my “persoonlike” blog gaan kyk, sal jy merk dat ek graag oor geloofsdinge skryf. Dit is een van die maniere waarop ek God aanbid. Ek skryf oor Hom en sy dinge.

Ek is ’n Afrikaner soos wat jy ’n Afrikaner beskryf. Ek kom uit ’n familie, aan die eenkant, van boere en, aan die anderkant, van professionele persone en akademici. Ek is diep gelowig. My oupagrootjie was ’n weeskind na die Anglo-Boereoorlog. ’n Ander was ’n stoere Duitser en wamaker. Nóg een het met vrugte naby Robertson in die Kaap geboer – op ’n plaas wat geslagte reeds in die familie is. My pa self het gespesialiseer in die die hantering van grondeise namens die boere. Ek is ‘n Afrikaner.

Maar ek kan nie saamstem dat álle Afrikaners Christelike waardes aanhang en uitleef nie. Nie as ek die kommentare op sosiale media lees nie. Sarkasme, haatspraak en vuiltaal is ongelukkig aan die orde van die dag. En ek vereenselwig dit nie met Christelike waardes nie.

Ook met die definisie van “die liberales” sal ek saamstem. Op die kontinuum is hulle sekerlik “die linkses”. Of is ek nou verkeerd?

Ek is steeds nie seker wie “die regses” is nie. Ek neem aan dat dit die Afrikaners is wat “Afrikaners” is soos jy dit hierbo beskryf.

Maar dít is ek ook.

Ek sien myself egter nie as “regs” nie. Dus moet daar sekerlik ander eienskappe bykom. Hulle kom duidelik in opstand teen die toestand waarin die land is, teen die regering van die dag, teen die wreedaardige aard van plaasmoorde, teen die onregverdige rassisme teenoor en marginalisering van blankes, teen regstellende aksie en kwotas by sport en universiteite, teen wanbesturing van instansies soos ESKOM en ander essensiële staatsinstansies, teen die poging om Afrikaans dood te druk en die verkragting van vryheid van spraak. Om maar ’n paar te noem.

Wel, ek val ook in hiérdie groep.

Steeds pla iets my. Ek kan nie my vinger daarop plaas nie. Hoekom assosieer ek nie met die “regses” nie? En dit is ’n werklike vraag. Ek vra dit nie net om debat uit te lok nie – alhoewel dit sekerlik potensiaal het om gesprekke te begin. Ek wonder regtig.

Daar is geweldige verdeeldheid onder die Afrikaners self. Ek het nie per se ’n probleem daarmee nie. Ek is van opinie dat meningsverskille en debat gesond is. Afrikaners is immers, soos jy sê, “vuriglik onafhanklik en selfversorgend” en “word gerespekteer vir hul durf en daad.” Maar die verdeeldheid word nie konstruktief aangespreek nie. Die snedige en sarkastiese kommentare – van albei kante af – steek my dwars in die krop. Ek hou nie daarvan nie. Ek vereenselwig nie daarmee nie. Ek hou nie van die manier hoe Afrikaans met vloekery en skellery verkrag word nie. Mense sal veel eerder op ’n ander opinie met ’n gevloek en geskel reageer as op ’n ordentlike, intelligente manier. Mense oorreageer ook en maak aannames. Soos jy, Colyn, wat sommer aanvaar het dat ek mooi netjies inpas in die “liberale”-boksie.

Ek neem nou maar die volgende sêgoed – kommentaar na aanleiding van my eerste blog oor die onderwerp – op jou Facebook-blad as voorbeeld: Herman Kern: “… ek kry ’n orgasme van sarkasme…” Herman Kern: “Soms moet niemand hul antwoord nie dan voel hulle kak.” Colyn Serfontein: “Ek stem saam Herman Kern maar dis my valley hierdie en ek gaan nie hierdie selfaangestelde sedebewakers laat wegkom hier binne my reikafstand nie. Hulle probeer hel hooggeleerd klink maar intussen het hulle die waarde van TROTS op jou HERKOMS verloor.”

’n Derde groep, dink ek, is apaties. Hulle swem saam met die stroom. Probeer maar net kop bo water hou. Oor húlle het ek nie veel te sê nie.

Ek is beslis nie deel van hierdie groep nie…

Maar ek dink ook dat daar nóg ’n groep Afrikaners is. Ek het nie ’n naam vir hulle nie, maar ek voel of ek en menige persoon wat ek ken, deel is van hierdie groep. Hierdie groep word deur die “regses” as “liberales” bestempel, maar hulle is nie “liberales” nie. Hulle is ook nie “draadsitters” soos wat hulle dikwels uitgekryt word nie. Hulle voel trots-Afrikaans. Hulle voel trots op hul herkoms – geweldig trots. Hierdie groep voel dat die probleme nie met verdeeldheid onder die Afrikaners onderling en rassehaat teenoor alle swartes opgelos kan word nie.

Wat rassisme aanbetref, wil ek net een ding sê: Dit speel na beide kante toe. Die rassistiese wolk in Suid-Afrika hang so dik en versmorend dat ek baie dae voel of ek nie kan asem kry nie. Dit is walglik.

Ek wag op ’n leier. Ek gaan egter nie vir Steve Hofmeyr aanhang omdat hy op hierdie stadium die enigste een is wat naastenby soos ’n leier optree nie. Hy skryf, byvoorbeeld, in ’n Facebook-post, “Kort antwoorde op kort vrae”: “Dan moet hulle klein kameras aan hulle holle vasplak om eerstehands te ervaar hoe dit voel as ’n beskawing regdeur jou rektum stort soos spuitpoep.” Is daar nie ’n beter manier om dit te stel nie? Moet ek ’n ou met so ’n mond regtig as leier volg? Kan ek hom ernstig opneem? Steve voer nie debat nie. Dit is reg of weg. Boonop twiet hy gereeld uit die Bybel uit. Vreemd.

Kunstefeeste.Tot dusver was kunstefeeste vir my ‘n duidelike teken dat Afrikaans hier is om te bly. Dit was en is ‘n teken dat Afrikaners wel ‘n middelweg kan vind ten spyte van verskille en bekgevegtery. Nou het hierdie borrel ook gebars.

Dink jy werklik ek kan kunstefeeste in die algemeen boikot as ek wéét dat honderde kunstenaars en uitstallers hul lewe uit kunstefeeste maak? Dink jy regtig ek kan vir selfsugtige redes kunstefeeste boikot?

Neem nou maar ‘n voorbeeld: My sussie is ’n kunstenaar. Kuns is haar lewe. Ook haar brood en botter. KKNK het haar genooi om hierdie jaar as een van die feeskunstenaars uit te stal. Dit is vir haar ’n professionele prestasie, hoogtepunt en voorreg.

Bo en behalwe daarvoor sien ek nie kans om my geliefde taal, Afrikaans, te boikot nie. Nie in ’n land waar Afrikaans reeds onder geweldige druk verkeer nie. Afrikaans word reeds deur die hoogste gesag in Suid-Afrika geboikot. Nou ook deur Afrikaners self.

Wil jy nou meer: Afrikaners boikot Afrikaanse kunstefeeste.

Daar is baie meer wat ek wil sê, maar hierdie is nou die tyd om af te sluit.

Wel, Colyn, tot wedersiens.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button