BlogsLife is beautiful - with LiezelOpinion

Lees is asem; boeke is kos

Deur die loop van die jare het ek letterlik derduisende boeke gelees. Ek is ietwat verleë om te sê dat ek vele se inhoud nie kan herroep nie. Sommige (of, as ek eerlik moet wees, die meeste) boeke geniet ek vir ontspanning en die karakters sterf sodra ek die boek na die laaste bladsy toemaak. Dit is ook nodig. Dit maak my gereed vir die volgende merkwaardige boek. Soos suurlemoensorbet tussen die gange van ’n heerlike maaltyd die palet vir die volgende gereg voorberei. Met die verloop van tyd het enkele boeke my bygebly. Vir verskillende redes. Hier is my lys.

Ai, ek het ’n paar liefdes in my lewe. Van hierdie liefdes is lees nie die minste nie. Of dalk is “liefde” nie die regte woord nie. Harper Lee het geskryf: “Until I feared I would lose it, I never loved to read. One does not love breathing.” Dalk is lees maar net vir my soos asemhaal…

Ek lees. Fanaties. Alles wat ek in die hande kan kry. Koerante, tydskrifte, blogs, news24 en, natuurlik, boeke. Boeke – my groot liefde. In watter vorm ook al. Digitaal of papier. Fiksie én nie-fiksie.

Deur die loop van die jare het ek letterlik derduisende boeke gelees. Alle genres en kleure en geure. Ek is ietwat verleë om te sê dat ek vele se inhoud nie kan herroep nie. Sommige (of, as ek eerlik moet wees, die meeste) boeke geniet ek vir ontspanning en die karakters sterf sodra ek die boek na die laaste bladsy toemaak. Dit is ook nodig. Dit maak my gereed vir die volgende merkwaardige boek. Soos suurlemoensorbet tussen die gange van ’n heerlike maaltyd die palet vir die volgende gereg voorberei.

Met die verloop van tyd het enkele boeke my bygebly. Vir verskillende redes. Die meeste is bekend. Ander boekwurms sal my lys dalk vervelig vind. Deesdae gaan ’n goeie boek nie ongesiens verby nie. Ou meesterwerke herlewe dikwels in nuwe vertalings en word herdruk. Huidige skrywers word met valkoë dopgehou en geresenseer. Die filmbedryf hou hul oë en ore oop vir boeke wat moontlik in draaiboeke omskep kan word en uitgewers is afhanklik van goeie boeke wat verkope opjaag.

Maar hier is my lys nietemin. Dalk kan iemand saampraat. Of dalk het iemand ’n boek om by te voeg. Ek is áltyd op soek na nuwe leesstof. Dit was ’n onbegonne taak om die lys korter te hou. En ek kan jou waarborg dat ek môre of oormôre sal onthou van ’n boek of tien wat agterweë gebly het.

Hierdie is eers die Engelse boeke. Ek sal volgende week ’n lys van Afrikaanse boeke plaas! Ek kon dit nog nooit regkry om die twee oor dieselfde kam te skeer nie…

boeke resized

A great book should leave you with many experiences, and slightly exhausted at the end.You live several lives while reading – William Styron

Die Latyns-Amerikaanse skrywers het my nog altyd gefassineer. Mario Vargas Llosa, Julio Cortázar, Octacio Paz, Carlos Fuentes, Jorge Luis Borges. Sulke lekker name. Sheila Cussons het verhale van Borges uit Spaans vertaal: Die Vorm van die Swaard en Ander Verhale – een van die merkwaardigste boeke wat ek ooit my oë op gelê het. Maar die meester van Latyns-Amerikaanse fiksie is sekerlik Gabriel García Márquez. One Hundred Hundred Years of Solitude is ’n meesterstuk wat my vir altyd sal bybly. Elke bladsy is die globale ophef werd.

Sigrid Undset, ’n Noorweegse romanskrywer en ontvanger van die Nobelprys vir Literatuur in 1928, was haar tyd ver vooruit. Baie ver. Haar meesterwerk was Kristin Lavransdatter. Die ouer vertaling van die boek het moeilik gelees, maar in 2005 is ’n uiters leesbare, poëtiese weergawe, vertaal deur Tiina Nunnally, deur Penguin uitgegee.

Ek lees ook graag fantasieverhale. En natuurlik is die pryswenner in hierdie kategorie die Suid-Afrikaans-gebore J.R.R. Tolkien met The Lord of the Rings. Wat meer kan ek sê? Die wat nie die boek gelees het nie, het tog sekerlik die flieks gesien. Die boeke is stap vir stap net so opwindend! Die Harry Potterreeks is kort op The Lord of the Rings se hakke.

Ek het nie baie erg aan geestelike boeke nie. Ek sweer maar by die Bybel. Een van my meesgelese boeke is egter, snaaks genoeg, ’n geestelike boek: Reaching for the Invisible God deur Philip Yancey. Yancey, ’n joernalis, antwoorde die vraag: “How do I relate to a God who is invisible when I’m never quite sure he is there?” ’n Boek wat ek maar altyd weer van die rak afhaal en deurblaai.

Historiese fiksie is gewoonlik goed nagevors en lekker om te lees. Hilary Mantel se Bring Up the Bodies, die opvolg van Wolf Hall, vertel die geskiedenis van Henry Tudor en sy vele huwelike by monde van Thomas Cromwell, sy adviseur en vertroueling. ’n Werklik merkwaardige boek – goed nagevors met ’n unieke skryfstyl.

Menige entoesiastiese leser is bekend met John Irving – skrywer van boeke soos The World According to Garp, The Cider House Rules, The Hotel New Hampshire en A Son of the Circus. Owen Meany is egter, saam met Garp, sy twee karakters wat my altyd sal bybly. Goodreads skryf oor A Prayer for Owen Meany: “From the accident that links them to the mystery that follows them–and the martyrdom that parts them–the events of their lives form a tapestry of fate and faith in a novel that is Irving at his irresistible best.”

’n Kortverhaal is soos ’n canapé. ’n Heerlike happie om die eetlus te prikkel. Die meester van kortverhale was en is sekerlik steeds W. Somerset Maugham. Ek het jare terug ’n stokou stel van The Collected Short Stories of W. Somerset Maugham in ’n tweedehandse boekwinkel raakgeloop. En nooit teruggekyk nie.

Daar is ook twee boeke oor die “tortured souls” van kunstenaars wat ’n blywende indruk op my gemaak het. Die eerste is The Agony and the Ecstasy van Irving Stone oor die lewe en werke van Michelangelo. Om hierdie werk te lees was ’n uitputtende en langdurige projek, maar oor en oor die moeite werd. Dit gee ’n realistiese en emosionele blik op een van die grootste kunstenaars en beeldhouers wat ooit gelewe het. Die tweede is The Moon and Sixpence, ook van W. Somerset Maugham, wat gebaseer is op die lewe van Paul Gauguin.

C.S. Lewis het gesê: “I can’t imagine a man really enjoying a book and reading it only once.” Ek het enkele boeke meer as een maal gelees. The Name of the Rose van Umberto Eco is een so ’n absoluut fassinerende boek. En ek gaan dit vir ’n derde maal lees. Al is dit eers oor twintig jaar. Die storie speel af in die jaar 1327 in ’n Franciskaanse klooster. Die klooster-biblioteek is in die vorm van ’n doolhof gebou en ’n groot deel van die verhaal sentreer rondom die uitleg van die biblioteek. Die Aedificium’s Labyrinth is definitief een van die mees opwindende agtergronde wat ek ooit in ’n boek teëgekom het.

Ek lees nie oor die algemeen graag fiksie wat in Afrika afspeel nie. Vir verskeie redes. Maar What is the What van Dave Eggers het my hart in twee hande styf vasgevat en aangeraak. Die boek is gebaseer op die lewe van Valentino Achak Deng. Meer as 20 000 seuns wat as gevolg van die Soedanese Burgeroorlog wees gelaat en ontwortel is, is in vlugtelingkampe versorg deur hulpverleningswerkers. Deng was ’n lid van hierdie “Lost Boys of Sudan”-program en is later in Amerika hervestig waar hy steeds woon.

In musiek praat hulle van ’n “one hit wonder”. Harper Lee het ’n “one hit wonder” geskryf: To Kill a Mockingbird. “You never really understand a person until you consider things from his point of view… Until you climb inside of his skin and walk around in it.” Nella Harper Lee het iets gehad om te sê. Sy het dit gesê. In To Kill a Mockingbird. En daarna haar mond gehou. Merkwaardig.

Wat reisverhale aanbetref, wen Seven Years in Tibet van Heinrich Harrer loshande. Hierdie boek het vir my onbekende en eksentrieke wêreld van Tibet oopgemaak. Die behoefte om Tibet, en spesifiek Lhasa, die hoofstad, te besoek brand vurig in my. Ek wonder of ek ooit die geleentheid sal kry…

Dan. Laastens. Kom ’n boek soms, net soms, oor ’n leser se pad. ’n Anderste boek. A Day No Pigs would Die het die afgelope week op my bedkassie beland. ’n Gebruikte kopie wat al baie male gelees is. Wat karakter het. Wat dalk niks meer as R10 in ’n tweedehandse winkel sal haal nie. A Day No Pigs would Die is 130 bladsye van ongekunstelde nederigheid wat dieper strek as die grootste rykdom. “’Papa,’ I said, ‘of all things in the world to see, I reckon the heavens at sundown has got to be my favourite sight. How about you?’ ‘The sky’s a good place to look,’ he said. ‘And I got a notion it’s a good place to go.’”

Daar is ander ook, maar hierdie is, vir nou, die bestes. Nie ‘n enkele een van hierdie boeke is ‘n “maklike” lees nie. Met die meeste het ek weke lank gestoei. Maar elke enkele ene was die moeite werd om te lees!

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button